Local newsNews

Vyf Afri-Indie benoemings vir Vaal se Inspirasie Veelvoud

Nico van Vuuren is onder andere grafiese ontwerper, bemarker, sanger en liedjieskrywer. 'n Kunstenaar met hope talent. Lees meer...

VANDERBIJLPARK. – Sy musiek is soos ‘n tuiskoms – Afrikaans op sy beste. Luistermusiek, wat jou na kaggelvure en goeie samesyn laat verlang.

Inspirasie Veelvoud (Nico van Vuuren) is besig om naam te maak in die onafhanklike musiekbedryf.

Inspirasie Veelvoud (Nico van Vuuren) se lirieke en melodieë bring weer ‘n diepte na egte, Afrikaanse luistermusiek. Foto: verskaf

Verlede jaar het hy die toekenning vir Beste Afrikaanse Liedjieskrywer vir Woorde in my Dagboek by die South African Independent Artist Music Awards (AfriIndie) ingepalm en hierdie jaar is hy benoem in vyf kategorieë vir twee van sy enkelsnitte.

Nico se Witborskraai is benoem vir Beste Musiek Video, Beste Volwasse Kontemporêre Enkelsnit en Beste Liedjieskrywer, terwyl Om die Tafel vir Beste Volwasse Kontemporêre Enkelsnit en Beste Liedjieskrywer benoem is.

Nico is ‘n gebore Vanderbijlparker wat sy skooldae by Laerskool Voorslag en HTS Carel de Wet deurgebring het.

“My wortels is hier,” glimlag hy. Hy het begin sing toe hy 17 was en was deel van, onder andere, metal groepe.

Teen 1999 het hy, geinspireer deur manne soos Koos du Plessis en Koos Kombuis, in Afrikaans begin skryf en sing.

“Ek het my musiek altyd vir myself gehou, totdat Covid se inperking getref het. Ek het daar besluit om my musiek te begin uitsit.”

Sy eerste liedjies het hul verskyning in 2022 op musiekplatforms gemaak en skaars ‘n jaar later het hy die toekenning by die groot Afri-Indie toekennings agter sy naam gehad.

Nico, ‘n grafiese ontwerper van beroep met ‘n goeie skoot bemarkingsondervinding, skrik nie vir uitdagings nie.

Hy het 18 maande aan die musiekvideo vir Witborskraai gewerk en alles self gedoen – van die animasie tot by die redigering.

Met goeie gevolge. Tans werk hy aan nog liedjies. “Ek wil nie covers doen nie. Elkeen van my liedjies is oorspronklik. Ek het wel Koos du Plessis se Kinders van die Wind verwerk. Die woorde is daar, maar dit klink heeltemal anders.”

Sy musiek is al op Bok Radio, Lekker FM en Radio Suid-Afrika gehoor en is beskikbaar op alles van YouTube tot by Spotify.

Gaan volg hom op facebook by Inspirasie Veelvoud. Die Afri-Indie Musiek toekenningsaand vind op 7 Augustus by die AfriForum Teater in Pretoria plaas.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button