VANDERBIJLPARK. – Die Valke Peregrineliga is op sy kop gekeer nadat die Vereeniging en NWU Vaal Rugbyklub se eerste rugbyspanne die naweek op hulle onderskeie tuisvelde die onderspit gedelf het.
Die Oos-Randse Armade van Brakpan en Springs se sending na die Vaaldriehoek was suksesvol.
Vereeniging het ‘n rustydvoorpsrong van 21-15 verspeel om uiteindelik met 42-33 teen Brakpan te verloor.

Die NWU Vaal het op die oewers van die Vaalrivier hand en tand baklei maar is met 35-33 deur Springs geklop. Spriongs se o.21’s het onttrek, maar die studente se tweede span het met 10-7 die wa deur die drif getrek.
Eerskomende naweek gaan die Vaal weer gons wanneer die NWU Vaal en Vereeniging mekaar op Boelapark in Vereeniging die stryd aansê. Brakpan is tans bo-aan die punteleer gevolg deur NWU Vaal, Vereeniging, Springs en Boksburg kort op mekaar se hakke.
Die volgende drie wedstryde in die liga gaan deurslaggewend wees om te bepaal wie op 24 Augustus in die halfeindronde in aksie gaan wees. Daar is sprake dat die halfeind en eindstryd se datums vervroeg kan word.
