News

Vanderbijlpark se Gideon klap sy pad oop tot bo

Hy kan taai klappe uitdeel, maar ontvang ook.

*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (2 Augustus 2024) verskyn. Koop ons koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.

VANDERBIJLPARK – Gideon Zeeman (42), ‘n kranige “slap fighter” van die Vaaldriehoek, onlangs in die swaargewigafdeling van die South African Slap Fighting Association (SASFA) se Thunderstruck Slap Fighting Competition geseëvier.

Die kompetisie het Woensdagaand (24 Julie) by Chicago Piano Bar in Ranparkrif in Johannesburg plaasgevind.

Gideon het tydens die kompetisie teen Tiaan Steyn (31) in die swaargewigafdeling te staan gekom.

Gideon Zeeman word as die South African Slap Fighting Association (SASFA) se swaargewigkampioen gekroon.

Gideon, wat bedags as ‘n instrumentasie tegnikus by Proxa werk, het sowat twee jaar gelede die wêreld van “slap fighting” betree nadat die bekende Vaaldriehoekse ‘slap fighter’ Danie “Pitbull” van Heerden hom aan die sport voorgestel het.

“Danie het hom gekontak en hom gesê dis ‘n nuwe soort sport wat besig is om groot te raak en hy gevoel het dis ‘n kontaksport wat Gideon moet probeer,” vertel Gideon se meisie, Zune Coetzee.

Sedert sy toetrede tot die sport het Gideon gewys dat hy houe kan uitdeel en ontvang.

Gideon spog tans met ‘n onoorwonne rekord van 2-0.

Hy het na afloop van sy oorwinning, die afgelope naweek gesê: “Ek voel baie trots op myself en goed dat ek myself kan druk om my beste te gee. Daar lê nog ‘n groot toekoms voor vir my in dié sport.”

Gideon Zeeman klap vir Tiaan Steyn tydens hul klapgeveg.

Back to top button