Soeke na pitbulls se eienaars
Indien die diere se eienaar/s nie gevind kan word of niemand hulle kan aanneem nie, sal hulle ongelukkig van kant gemaak moet word.
VANDERBIJLPARK. – Twee pitbulls wat op 1 Augustus langs Ou Johannesburgweg gevind is staar ‘n onsekere toekoms in die gesig.
Die diere word tydelik by hokke by Vaalpets in Vanderbijlpark aangehou, maar ongelukkig mag Vaalpets glad nie “veghond”-rasse aanhou nie.

Volgens Laurika Oosthuizen van Vaalpets is die honde vir drie weke ingeboek, waarvan die eerste twee weke amper verby is.
Albei die honde is volgens Oosthuizen in ‘n goeie toestand en glad nie aggressief nie.

Oosthuizen sê: “Ons kort dringend die eienaar of iemand wat na hulle kan omsien.”
“Indien iemand dalk weet van iemand wat sulke honde gehad het en dalk verhuis het of hulle honde net weg is, laat ons asseblief weet,” sê Oosthuizen.
Indien die eienaars besluit het om die honde af te laai, word hulle versoek om met Vaalpets kontak te maak.
Volgens Oosthuizen sal die eienaar, indien hy/sy navore kom, kenmerke van die honde moet bevestig en kan sê watter geslag hulle is.

Volgens Oosthuizen is daar ‘n aanneemfooi aangesien die honde gesteriliseer moet word.
Daar sal ook ‘n ondersoek van hul nuwe tuiste gedoen moet word, aangesien veghond-rasse nie in die verkeerde hande kan beland nie.
Mense met inligting oor die eienaar/s kan vir Rosemary Botha by 083 645 6584 Laurika Oosthuizen by 083 737 8851 skakel.

