VEREENIGING – Wanneer Jaco Dames glimlag kan jy nie anders as om saam te smile nie. Dit is aansteeklik.
Dis asof hy iets weet wat ons nie weet nie. Die 48-jarige is ‘n gebore en getoë Vaaldriehoeker en is ‘n rugbyman in murg en been.
Een van die dae gaan hy sy rugbydroom uitleef wanneer hy op 1 Maart amptelik die leisels van die Blou Bulle Rugbyunie se amateurkant oorneem.
“Ek het nou die werk waaroor ek altyd gedroom het. Ek kon nie vir die Bulle speel nie, maar nou kan ek vir hulle in die kantoor werk,” skerts hy. Hy en sy sibbe, Rudi en Conrad, het goeie gene en leiding van hul pa, Archer, gekry.
Archer se naam pryk vir ewig op die Curriebeker wat hy saam met die Bulle in 1971 gewen het. Jaco, net soos sy broers, is met ‘n rugbybal in die hand gebore, maar sy belowende rugbyloopbaan is op 20-jarige ouderdom met ‘n ernstige besering kortgeknip. Maar die woord opgee bestaan nie in sy se woordeskat nie.
Hy durf die lewe met ‘n glimlag aan. Sabbat soos sy rugbyvriende hom ken en sy broers het almal vir die Vaaldriehoek laerskole en hoërskole Cravenweek-rugby gespeel. Die van Dames was legendaries by die Laerskool Risiville en Hoërskool Vereeniging waar hulle skoolgegaan het.
Hul ma was ook ‘n sportvrou van formaat en het netbal vir Noord-Transvaal gespeel. “Na my besering het my pa gesê ek moet in afrigting in gaan en later in bestuursposisies in gaan. My pa het altyd gesê ek moet hard werk.
Rugby is ‘n groot wêreld en jy moet altyd ‘n groot netwerk hê van mense en vriende en nou kan ek my droom uitleef,” sê hy. En met ‘n rugby getuigskrif soos syne word daar groot dinge vir die Blou Bulle se hoopvolles onder sy leiding voorspel.
