VANDERBIJLPARK – Mens kry besige bytjies in die lewe en dan is daar mense soos Ané Hartman wat hierdie einste bytjies laat lui lyk.
Sy is iemand wat ‘n verskil maak waar ookal sy gaan. Van die netbalbaan tot die klaskamer, van ’n glasie wyn saam met geliefdes tot drafroetes saam met haar honde, leef sy met passie, energie en onwrikbare toewyding haar drome uit.

Gebore en getoë in Vanderbijlpark, het Ané se liefde vir sport en onderwys vroeg begin.
Sy het haar skooljare by die Laerskool Emfulenipark en die Hoërskool Transvalia deurgebring, waarna sy aan die NWU Vaal kampus studeer het. Hoewel haar pad met skeidsregterskap toevallig gekruis het, was dit ‘n besturing van Bo.
“As student kon ek nie meer speel nie, maar ek wou netbal nie laat gaan nie. So ek het ’n fluitjie gekoop en begin,” vertel sy.
Vandag is Ané ’n nasionale B+ skeidsregter, ’n posisie wat sy met harde werk en baie ure se bloedsweet op die baan verdien het. Sy is ook ’n gradeerder by Netbal Suid-Afrika se toernooie, waar sy jonger skeidsregters mentor en ondersteun.
Haar droom is om eendag ‘n A-klas skeidsregter te word. Sy is boonop ook die voorsitter van Sedibeng-Wes (D8) se skolenetbal. Vir Ané is skeidsregterskap ‘n passie en ‘n roeping.
“Soos enige ander sport, hoe meejy oefen, hoe beter word jy,” verduidelik sy. “Dit vat tyd om raakgesien te word, maar ek glo as jy hard werk, sal die regte geleenthede op die regte tyd kom.”
Alhoewel netbal ’n groot deel van haar lewe is, is dit nie haar enigste passie nie. Vir Ané is onderwys ’n roeping. “Ek love my werk. Ek werk daagliks met die kroon van die Skepping.”
Sy het al beide hoër- en laerskoolonderrig gegee en al het sy die hoërskool baie geniet, is laerskool haar hart se punt. “Dis moeilik om te verduidelik, maar die ‘my-hart-is-vol’-gevoel wat ek elke dag by die laerskool beleef, maak dit vir my die regte plek.”
Wanneer sy nie in die klaskamer of op die netbalbaan is nie, is sy ’n kranige drawwer en gebruik dit om fiks te bly vir haar skeidsregter-pligte. Haar honde, Xena en Troy, draf gereeld saam en is haar lojale oefenmaats.
Maar die grootste pilaar van ondersteuning in haar lewe is haar man, Johnny. “Hy verstaan my passie en ondersteun my deur alles. Sonder hom sou ek nie soveel kon aandurf of sukses behaal nie.” Vir jong skeidsregters of enigiemand wat ’n nuwe uitdaging wil aandurf, het sy eenvoudige, maar waardevolle raad.
“Moet nooit opgee op jou drome nie. Werk hard, bly toegewyd, en op die regte tyd, op die regte plek, sal jou geleentheid kom.” Met haar entoesiasme, deursettingsvermoë en liefde vir mense, is daar geen twyfel dat Ané nog baie hoogtes gaan bereik nie – op en van die netbalbaan af.
