VANDERBIJLPARK – Met albei bene in gips, gekluister in ‘n rolstoel het Divan du Toit, ‘n graad twee-kannetjie met sterretjies in sy oë en ‘n kop vol drome sy eerste Varsitybeker-rugbybal by sy pa gekry.
“Ek het nie regtig geweet wat die Varsitybeker is nie. Die eerste wedstryd wat ek gekyk het, het NWU en Maties toevallig teen mekaar gespeel.
Ek het vir my pa gesê ek gaan eendag vir Pukke teen Maties speel,” vertel Divan. Min wetende dat die profetiese woorde op 24 Februarie vanjaar in Potchefstroom op die Fanie du Toit-rugbystadion bewaarheid sou word.
“Ek het nie woorde om te beskryf hoe dit gevoel het om op die Fanie uit te draf nie. Ek wens almal kan dit eenkeer in hul lewens beleef. Ek het ‘n traan gepik toe ons die volkslied gesing het,” bieg die jong skrumskakel.
Om hierdie mylpaal te bereik, is daar baie bloed en trane gestort. Taai besluite is geneem. Die 22-jarige Divan het ‘n senior kontrak by die Valke gehad en het ook ‘n aanbod van die Pumas van die hand gewys om verder te studeer.
Hy is tans besig met sy honneurs om homself as ‘n finansiële rekenmeester te bekwaam.
“Rugby hou net so lank. Ek glo elke jongmens moet ‘n graad kry,” vertel hy. Divan was laasjaar reeds in die Varsitybekergroep, maar het nie speelkans gkry nie.
“Dit was moeilike tye, maar ek het vir myself gesê om aan te hou hard werk, want iets sal kom.” Sy deurbraak het vanjaar aangebreek en hy het dit met albei hande aangegryp.
“Daar is baie diepte in die groep. Ons het die sêding ons wil nie die trui goedkoop maak nie. My hande het voor die wedstryd teen Maties vreeslik gesweet ek was baie ‘gestres.’
Ek het vir myself gesê my afrigter het vertroue in my om die begintrui vir my te gee, so ek gaan moet swem of sink.” Hy het meer as net kop bo water gehou.
Benewens al die harde werk spog hy met ‘n geheime wapen in sy arsenaal – sy jonger broer Duan. Broederliefde. Waar bloed nie loop nie, kruip dit. Volgens hul pa, Toit, is die twee soos Dawid en Jonathan.
“As die een te lank weg van die huis is vra die ander wanneer kom boetie huis toe,” vertel die trotse pa. Divan en Duan (20) woon tans in Soetdoring Manskoshuis en is mekaar se grootse ondersteuners.
Die 20-jarige Duan speel tans losskakel vir NWU se Young Guns en daar word ook ‘n groot rugbytoekoms vir hom voorspel. “Ek vertel dit vir min mense, maar my doel in die lewe is om hom te inspireer. Ek leer ook baie by hom.
Almal se altyd hy is te klein vir rugby. Hy speel fenomenale rugby. Hy is vir niemand bang nie. Hy duik groot senters en skop stelskoppe van 60m af oor. Niemand het ons ‘n kans gegun nie.
Ons glo in mekaar. Ons hou mekaar se voete op die grond en ons arms uitgestrek na die Here,” vertel Divan trots. Pa Toit wens egter tong-indie-kies dat sy spruite eerder nie rugby gespeel het nie.

“My senuwees is meer op hol as toe ek self gespeel het. Ek moes Maandagoggend die werk verlaat en huis toe gaan, want my maag het gedraai en gekramp. Dit is angswekkend, want ek wil hê hulle moet goed doen.
Op pad Potch toe het ek gedink sou dit nie maar beter gewees het as hulle ballet het of tennis gespeel het nie,” spot hy. “Hulle broederliefde lê my na aan die hart.
Omdat ek dit nie gehad het nie het ek baie klem op broederliefde en familie geplaas. Hulle twee verbaas my elke dag.” Oor sy vordering is Divan baie beskeie.
“Ek was nie die beste speler op skool nie. NWU Vaal en sy afrigters en bestuur het my gebring tot waar ek vandag is.
Ek sien myself nie as ‘n rolmodel nie, maar ek wil spelers in die Vaaldriehoek inspireer sodat hulle besef mens kan dit maak en jou droom uitleef,” sluit Divan af.
