News

Bewerings oor omkopery en gesteelde Eskom-transformator in R32 miljoen-bedrogsaak

Die man van die voormalige kykNet aanbieder, Henriette Marx, beweer Emfuleni-munisipale amptenare is met R14m per jaar omgekoop om elektrisiteitskoste onwettig te verlaag.

VEREENIGING – Nuwe bewerings het aan die lig gekom in die voortslepende bedrogsaak teen Andries Petrus Cornelius Marx, sy vrou Henriette Marx – ‘n voormalige televisie-aanbieder van die kykNET-program Net Koffie – en Paul Louis McIntyre.

Hulle staan tereg op klagtes van bedrog en diefstal ter waarde van meer as R32m van Yellow Star Manufacturing (YSM).

Volgens ‘n Sunday Times-ondersoek het Marx YSM-eienaar Hanno van Dyk daarvan beskuldig dat hy Emfuleni-munisipale amptenare met R14m per jaar omgekoop het om elektrisiteitskoste onwettig te verlaag.

Marx, ‘n voormalige direkteur by YSM, beweer in ‘n verklaring aan die polisie in 2023 dat ‘n transformator van Eskom gesteel en by YSM geïnstalleer is, wat die maatskappy se elektrisiteitsrekening halveer het.

Hy beweer hy is opdrag gegee om kontantbetalings aan munisipale amptenare, insluitend Thabo Khanye, by gespesifiseerde plekke te maak.

Van Dyk het hierdie bewerings sterk ontken en beweer eerder dat Marx die omkoopskema self gereël het sonder sy medewete.

Hy beweer Marx het YSM deur sy maatskappy, Tabgha Holdings, bedrieg en dat hy eers ná Marx se afdanking agtergekom het van vals fakture en ‘n uitstaande R10m munisipale rekening.

Van Dyk sê hy het die skuld en ‘n boete vir die knoei met noodsaaklike infrastruktuur betaal om YSM se voortgesette bedryf te verseker.

Die Valke het bevestig dat ‘n ondersoek aan die gang is oor ‘n gesteelde Eskom-transformator wat by YSM gevind is.

Intussen het Emfuleni Munisipaliteit se woordvoerder, Makhosonke Sangweni, bewerings van omkopery van die hand gewys en volgehou dat die betrokke persone lede van ‘n privaat maatskappy was wat deur die munisipaliteit gekontrakteer is.

Khanye, een van die individue wat daarvan beskuldig word dat hy omkoopgeld ontvang het, ontken enige betrokkenheid en sê hy het Emfuleni drie jaar gelede verlaat en is nog nooit deur die owerhede ondervra nie.

Nog ‘n YSM-werknemer, David Mokoteli, sal na verwagting teen Marx in sy bedrogverhoor getuig, maar hy ontken dat hy by enige omkopery betrokke was.

Marx, wat reeds teregstaan op klagtes van bedrog en diefstal vir die beweerde verduistering van YSM-fondse, volhou dat Van Dyk die meesterbrein agter die elektrisiteitskema was.

Beide partye het sake teen mekaar aanhangig gemaak, wat die regsproses verder kompliseer.

Die saak duur voort, en Marx, sy vrou Henriette en McIntyre moet volgende maand weer in die hof verskyn. Ondersoeke na die beweerde omkopery en elektrisiteitsbedrog duur voort.

Hanno van Dyk, eienaar van Yellow Star Manufacturing.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button