Ek sê maar net… Onderstevoor … dis hoe dit is
RUBRIEK - Onderstebo, agterstevoor en bietjie rigtingbeduiweld. Nie almal is so nie, maar ek is.
RUBRIEK – My middelnaam moes Verstrooid gewees het. Kyk, ek kan nie eens die ouderdom blameer nie want verstrooid die was ek nog altyd.
Het geheel rigtingbeduiweld voete eerste die wêreld ingekom en sedertdien doen ek dinge wat ander laat lag en kopskud.
Ek vergeet gereeld my arme Ford Mich se venster oop. Gelukkig skree hy as ek wil uitklim en die ligte is nog aan.
So is ek nou die dag tussen mense en ek het ‘n nuwe kortbroek aan. Die het ‘n rek aan die een kant en twee sulke bande aan die anderkant.
G’n mens weet hoekom nie. Maar mens strik of knoop dit mos maar net vas en daar gaat jy.
Die oggend kla ek toe ‘n slag of wat dat die broek se sakke darem vreeslik klein is. Ek kry nie eens my pakkie gifstokkies daar in nie.
Die ure gaan verby en veel later, daal daar ‘n gedagte op my neer. Was besig om saam met ander ‘n plek te besigtig, maar ek voel toe so ongemerk hier agter by die broek se rek rond, maar vat geen label raak nie.
Inderdaad, die betrokke label sit toe voor. Ek het die broek agterstevoor aan. Nie twee weke later nie en ek pluk ‘n hemp weer in volle vaart uit die kas uit en aan.
Soos gewoonlik weer laat. Het ‘n onderhoud by een van Vanderbijl se dansskole, nogal met die jonge dansers, van hul ma’s en instrukteurs wat net van die World Dance Champs terug gekeer het.
Ek dag my klere sit nie so gemaklik nie, maar ek dog ek sit dalk net my hemp vas. Ek het die neiging om langer hemde te koop.
Van die dansskool oorval ‘n groot dors my en ek stop by die naaste supermark vir ‘n lafenis. Dis toe ek so in die ry afstap na die yskaste wat ek afkyk.
En ek dink, maar Gerda het hierdie hemp nie knopies voor nie? Ek vat-vat so na my rugwerwels se kant toe en ja wragtag ek het dit weer gedoen.
Hemp is agterstevoor aan. Wel, ek was steeds dors. Het maar rustig in die ry gaan staan en met styl daar uitgeloop asof agterstevoor klere die jongste mode direk uit Milaan is.
Dis nou maar soos dit is. Ten minste was dit beter as die keer toe ek met ‘n onderstebo hemp in Graskop se enigste SPAR ingeloop het.
Op daardie stadium het ek in Graskop gebly. Dis ‘n klein plekkie en almal ken mekaar daar…
