VANDERBIJLPARK – ‘n Beroepskaart vir liggaamsbou word nie aan elke Jan Rap en sy maat uitgedeel nie, dit word slegs aan die beste van die bestes toegeken. Daarvan kan die oud-Vaaldriehoeker Lenge Kotze getuig.
Sy het haarself onlangs by ‘n uitgelese groep aangesluit toe sy in China haar IFBB-beroepskaart in die “wellness” afdeling verdien het.
Die oudleerling aan die Hoërskool Transvalia in Vanderbijlpark woon al jare in Shanghai waar sy as fiksheidskundige diep spore in die bedryf getrap het. Hoewel sy bloedsweet in die gimnasium is sy ook dankbaar vir haar ondersteuningsnetwerk. “Groot doelwitte kan nie in isolasie bereik word nie.
Ek is so dankbaar vir almal wat ‘n rol gespeel het in hierdie mylpaal wat bereik is. Ons het dit saam vermag,” gee sy te kenne. Elke dag sal sy eie uitdagings bring, maar een ding is verseker dat sy besef wat voorlê.
“Daar is nog baie verbetering nodig voordat ek my eerste kompetisie in die professionele liga doen.
Ek is so gereed om in te sit wat dit verg,” sê sy. “Ek onthou in my jonger jare toe ek probeer het om myself te buig en te vorm volgens ander se opinies, verwagtinge en voorkeure. Dit het dit so moeilik gemaak om myself werklik te vind en te vorder, omdat ek te veel waarde geheg het aan wat ander mense gedink en gesê het,” sluit sy af.

