NewsSport

Rhinos vier 10de bestaansjaar

Die laerskole week het ook reuse groei getoon.

VANDERBIJLPARK – Sowat 4 000 rugby, netbal en hokkiespelers sal vanjaar by die gesogte Dries van Heerden Rhinoweke in aksie wees.

Die Rhinos vier vanjaar sy 10de bestaansjaar en dit beloof om groter en beter as ooit te vore te wees.

Die week het in 2014 by die Hoërskool Linden gestalte gekry toe ‘n klein komitee bestaande uit Doom Gouws, Di Wooley, Ertjies Bezuidenhout en Dr. Jorrie Jordaan en Gert Tsotetsi, dit onder die vaandel van Prestige Jeugsport begin het.

Vandag word dit onder die sambreel van Rhino Youth Sport Development aangebied, wat nie winsgedrewe is nie.

Die weke word onder meer met die goedkeuring van SARU en Gauteng Sport aangebied. Netbal is ook vir die eerste keer in nege jaar weer betrokke by Rhinoweek.

Die week het in 2015 met 12 rugbyspanne en 16 netbalspanne afgeskop. Die streeksweek het reuse groei getoon en vanjaar sal daar tydens die Rhino Streeksrugbyweek 32 streekspanne en 18 klub- en akademiespanne deelneem.

Daar gaan ook agt dogterspanne vanjaar deelneem. Dan is daar boonop 32 hokkiespanne en 24 netbalspanne wat in aksie gaan wees. “Die Rhinoweke is besonders.

Dit gee soveel kinders geleenthede en is ‘n werklike ontwikkelingstoernooi. Dit maak nie saak watter kleur jy is, watter taal jy praat of watter geloof jy is nie. As jy goed genoeg is, mag jy deelneem.

Twee -en vyftig persent van die spelers by die streeksweek is spelers van kleur. Ons is baie trots daarop,” het Van Heerden, die vader van die Rhinoweek, aan die vooraand van die Rhinoweke gesê.

Die provinsiale rugbyweek wat vir o15 en o17-spanne voorsiening maak spog met 24 spanne.

Die laerskole week het ook reuse groei getoon. Vanjaar sal daar 24 rugbyspanne en 20 hokkiespanne in aksie wees.

“Geen kind sal weggewys word wat dit nie kan bekostig om deel te neem nie. Daar word altyd plan gemaak,” het Van Heerden afgesluit.

Volgens Gert Tsotetsi, die toernooidirekteur van die Rhinoweke, bemagtig en skep die toernooi ‘n platform vir kinders om hulself teen hul portuurgroep te bewys.

Martin van Wyngaard wat jare lank al Van Heerden se regtehand is, is aan beheer van die toerspanne wat reeds nege jaar in Europa toer.

“Dit skep ongelooflike geleenthede vir kinders. Nie net om oorsee te gaan speel nie, maar om ander lande se kultuur te beleef. Bitter min mense kry hierdie geleentheid,” gee hy te kenne.

*Die datums vir die onderskeie Rhinoweke is: Streeksweek: 1-5 Julie Provinsiale week: 8-12 Julie Laerskole week: 16-19 Julie

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button