Strate onder water in Drie Riviere
Tien van die Vaaldam se sluise is reeds oop en verskeie strate is reeds onder water namate watervlakke styg.
VEREENIGING – Verskeie strate in Drie Riviere – ‘n woonbuurt wat se naam afkomstig is van die samevloei van drie riviere, naamlik die naamlik die Vaalrivier, Kliprivier en Suikerbosrivier – is reeds onder water nadat die aantal oop sluise by die Vaaldam Vrydag na 10 vermeerder is.
Die Departement van Water en Sanitasie het in die afgelope twee dae altesaam 7 sluise oopgtrek – 3 sluise Donderdag en 4 sluise Vrydag. Dit bring die totale aantal sluise wat oop is na 10.


Die sluise is oopgetrek weens die vinnig stygende waterinvloei in die Vaaldam as gevolg van swaar reënval in die Vaaldam se opvangsgebied.
Die Sedibeng-distriksmunisipaliteit se rampbestuurspan het gemeenskappe gewaarsku dat die verskeie strate in Drie Riviere en Peacehaven gesluit mag wees weens stygende watervlakke. Dit sluit Golfweg, Generaal Hertzogweg, Brandmullerrylaan en Waterkantstraat in.


Motoriste word aangeraai om van alternatiewe roetes gebruik te maak.
Die rampbestuurspan sê hy is op ‘n gereedheidgrondslag en dat hy toestande monitor.
Gemeenskappe langs die riviere sal in kennis gestel word van verdere ontwikkelinge.



