Net hardkoppig, of is daar meer agter jou kind se gedrag?
As jy gereeld jou hare uit jou kop uit wil trek omdat jou kind so ongelooflik moeilik, ongehoorsaam, manipulerend en uitdagend is en dikwels weier om deel te neem aan alledaagse aktiwiteite selfs binne gesinsverband, moet jy verder lees.
Dalk is hy juis nie al die dinge nie, maar het hy bloot nie beheer oor sy optrede nie omdat hy patologiese eisevermyding (PEV) – in Engels: Pathological demand avoidance – PDA, het.
Kyk ‘n mens na die statistiek lyk dit asof 70% van kinders met PEV nie in ‘n hoofstroomskool is nie en by ‘n spesiale ondersteuningsentrum ingeskryf is of tuis onderrig word.
17% van hierdie kinders weier om skool toe te gaan, en ongelukkig is daar nie PEV-spesifieke skole nie, hoewel daar wel skole is waar daar in ‘n mate voorsiening hiervoor gemaak word.
Volgens die PEV-vereniging in Brittanje behels eisevermyding die onvermoë om sekere dinge op sekere tye te doen. Dit verwys ook na dit wat ons doen om eise te vermy.
PEV is nie maklik om te diagnoseer nie, want die meeste van ons is geneig om soms nie gehoor te gee aan eise nie – ons almal doen dit om verskillende redes.
Die PEV-persoon se optrede is egter meer ekstreem.
Hulle vermy direkte en indirekte eise en selfs wanneer jy so ‘n persoon op die skouer klop, kan hy dit as ‘n verwagting ervaar dat hy nou in die toekoms dieselfde moet doen.
Dit kan trauma in die brein aktiveer wat die veg-vlug-vries-respons tot gevolg kan hê.
Maar onthou, as jy enigsins vermoed jou kind ly dalk in ‘n mindere of meerdere mate hieraan, moenie ‘n selfdiagnose maak nie en raadpleeg ‘n kundige, want elke kind verskil en reageer anders op die prikkels van buite.
En ja … dalk is hy net sommer “moeilik”, want die meeste mense het maar van hierdie eienskappe wat soms kop uitsteek.
- Inligting: Afrikaans.com
