VEREENIGING – ’n Belowende 18-jarige rugbyspeler van die stad doen ’n beroep op die gemeenskap vir ondersteuning nadat hy gekies is om aan ’n internasionale rugbytoer deel te neem.
Gerhard Labuschagne, ’n matriekleerling van Hoërskool Overvaal, is onlangs gekies vir die Amajuba Italië-rugbyspan wat van 5 tot 13 Desember aan ’n toer deur Italië sal deelneem.
Dié prestasie volg na Gerhard se deelname aan die Amajuba Sportweek in Volksrust gedurende die vakansie.

Sy uitstekende vertoning daar het tot sy insluiting in die toer-span gelei – ’n groot mylpaal in sy rugbyloopbaan.
“Dit is vir my ’n geweldige eer en ’n droom wat waar word,” sê Gerhard.
“Rugby is vir my meer as net ’n sport – dit is deel van my leefstyl en het my gevorm as mens.”
Hy is nie ’n nuweling op die internasionale verhoog nie. In 2019 is hy gekies vir die o12 Rino’s-toerspan wat Engeland, Skotland en Wallis besoek het.
Die Italië-toer bring egter aansienlike kostes mee, insluitend vlugte, verblyf, oefentoerusting en etes.
Gerhard doen nou ’n beroep op borge om hom te help om hierdie droom te verwesenlik.
“Ek sal met trots enige ondersteuning erken – hetsy deur ’n borg se naam of logo op sosiale media en oefenhemde te vertoon,” sê hy.
Vir meer inligting of om ondersteuning aan te bied, kontak Gerhard by 062 792 8547 of sy pa Bennie by 082 568 2476.

