Vaaldriehoek steeds sterk verteenwoordig by AVS Bokkieweek te midde van bohaai
Storm bars los rondom Bokkieweek.
VANDERBIJLPARK – Terwyl die 35ste AVS Bokkieweek vanjaar landwyd opslae gemaak het ná oproepe vir ‘n ondersoek na die byeenkoms, bly die Vaaldriehoek ‘n belangrike deel van die toernooi se geskiedenis en leierskap.
David Mey, president van Afrikaner Volkseie Sport (AVS), is ‘n bekende inwoner van die Vaaldriehoek en dien sedert 2019 as nasionale president van die organisasie. Hy was voorheen president van die AVS Vaaldriehoek-unie, wat reeds sedert 1992 aan Bokkieweek deelneem.
Verskeie jong sportlui uit Vanderbijlpark, Vereeniging, Sasolburg, Meyerton, Heidelberg, Parys, Carletonville en Fochville het vanjaar weer die Vaaldriehoek-unie in rugby, hokkie en netbal tydens die toernooi in Mookgophong (Naboomspruit) verteenwoordig.
Die Bokkieweek het van 6 tot 10 Julie plaasgevind en duisende spelers, beamptes en ondersteuners van regoor Suid-Afrika gelok.
Die toernooi het egter ná afloop daarvan in die kollig beland nadat die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, op die sosiale-mediaplatform X beweer het dat sowat 3 500 wit Afrikaner-skoolkinders tydens die openingseremonie Die Stem gesing het en dat spanne onder die name van voormalige Suid-Afrikaanse provinsies meegeding het. Lesufi het ook gevra dat deelnemers aan die byeenkoms op ‘n swartlys geplaas word.
Die bewerings het ‘n landwye debat ontketen en vorm deel van die kwessies waaroor ondersoek gevra is.
Minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het die byeenkoms op X gekritiseer en dit onder meer as “apartheid nostalgia” beskryf. Hy het egter later aangedui dat hy nie die bevoegdheid het om ‘n private sportgeleentheid te verbied nie.
Die voorsitter van die Parlement se Gekose Komitee oor Onderwys, Wetenskap en Kreatiewe Bedrywe, Makhi Feni, het intussen, na aanleiding van mediaberigte, versoek dat die Departement van Basiese Onderwys ondersoek instel na die bewerings oor die byeenkoms. Die ondersoek moet onder meer bepaal of die geleentheid in ooreenstemming met die Grondwet se beginsels van gelykheid, nie-diskriminasie en maatskaplike samehorigheid was.
AVS het intussen sy steun vir Bokkieweek herbevestig en gesê die toernooi is al 35 jaar ‘n belangrike sport- en kultuurgeleentheid vir Afrikanergesinne.
Die organisasie verwerp die kritiek teen die byeenkoms en voer aan dat Bokkieweek ‘n privaat sport- en kultuurgeleentheid is wat binne die Grondwet se reg op vryheid van assosiasie funksioneer. Volgens AVS het vanjaar se deelnemers, ouers en ondersteuners oorwegend positiewe terugvoer oor die week gelewer.
Vir die Vaaldriehoek bly die fokus egter op die honderde plaaslike jong sportlui wat jaarliks die geleentheid kry om hul streek op provinsiale vlak te verteenwoordig. Die Vaaldriehoek-unie het oor die jare talle trofeë by Bokkieweek verower en word steeds as een van AVS se mees suksesvolle unies beskou.