NewsSport

Valia se pad met duwweltjies besaai

Die span het gewys dat hulle teen die bestes kan meeding en wen.

VANDERBIJLPARK – Die Donker Plek! Pasop vir die Donker Plek! Dis waar die Hoërskool Transvalia se eerste rugbyspan bly en gedy.

Vra maar vir die Hoërskool Rustenburg en Hoërskool Dr. EG Jansen wat die afgelope paar weke op NNDPark onderskeidelik met 20-13 en 39-26 die onderspit teen die Ligbloumasjien gedelf het. “Ons floreer onder druk.

Ons noem dit die Donker Plek. Ons hou daarvan om ander spanne soontoe te vat,” het Lloyd Greeff, Transvalia se direkteur van rugby, na sy span se spogseges gesê.

Valia se Wihandre Kruger op die aanval.

Transvalia het vanjaar na die Bekerafdeling van die SDC Noordvaal-kompetisie opgeskuif en het twee groot seges behaal. Valia het inteendeel nege van die 13 wedstryde teen EG Jansen gewen.

Verlede Saterdag was sy seweflank Daniel Kazambo met ‘n driekuns aan drieë die laksman wat die Boksburgers se segedroom laat verwelk het. “Dit was een van die beste wedstryde deur ‘n skoolseun wat ek in ‘n lang tyd gesien het gelaat word nie.

Christiaan Liebenberg en Wihandre Kruger verdien ook ‘n klop op die skouer vir hulle spel,” het Greeff bygesê. Hoewel Transvalia se stelskopwerk hom Saterdag in die steek gelaat het, is Greeff baie tevrede met sy skakelpaar wat EG Jansen met puik taktiese spel onder druk gesit het.

“Ons senterkombinasie (Declan Hattingh en Dante Oosthuizen) begin homself ook vestig. Hulle is miskien nie die grootste in die kompetisie nie, maar jy gaan nie deur of om hulle hardloop nie.” Transvalia geniet die naweek ‘n welverdiende ruskans waarna hy drie wegwedstryde moet trotseer.

Lynstaan aksie teen EG Jansen.

Eerskomende Saterdag kom Valia voor sy grootste uitdaging sover die seisoen te staan wanneer hulle teen Menlopark in die Jakarandastad te staan kom. Menlopark beklee tans die 15de posisie op die skoleranglys.

En daarna is die paadjie met nog vele duwweltjies besaai. Op 7 Junie in Krugersdorp kom die beleerde Monnas aan die beurt gevolg deur Garsfontein (14 Junie 8: ste in land), Helpmekaar (27 Junie: 16de in die land). Valia se eerste tuiswedstryd is eers weer op 2 Augustus teen Nelspruit, waarna Waterkloof (9 Augustus: 18de in die land) en Noordheuwel (16 Augustus: 22ste in die land) volg.

Valia het vroeër die seisoen met 29- 17 teen Menlopark verloor maar daar het baie water sedertdien in die see geloop.

In daardie spesifieke kragmeting het Valia sewe pogings pale toe verbrou. Transvalia is tans beseringloos en sien uit na die kragmeting teen Menlopark.

“Ons is ‘n span om mee rekening te hou. Hulle lynstane is baie goed en hulle hou van wyd speel, maar ons sal gereed wees,” het Greeff afgesluit.

Transvalia se eerste span beklee tans na twee wedstryde met nege punte die derde plek op die puntelys naas Garsfontein (10 punte na 2 kragmetings) en Helpmekaar (12 punte na vier wedstryde).

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button