MEYERTON – Die eerste netbalspanne van die Hoërskool Transvalia en Hoërskool Dr. Malan het mekaar verlede Saterdag in ’n spanningsvolle uitspeelwedstryd in die Sedibengliga aangedurf.
Transvalia het die naelbytstryd met 18-17 gewen en dring nou saam met Heidelberg Volkskool deur na die Gauteng-kampioenskap wat hierdie naweek by Hoërskool Florida aangebied word.

Die senutergende wedstryd het van die begin fluitjie tot aan die einde van kragmeting wipplank gery. Teen die einde van die tweede kwart was die telling steeds gelykop.
Die skouspelagtige wedstryd is gekenmerk deur vinnige, vloeiende spel en goeie opskiet en teenaanval verdediging van beide spanne.
Geen span was bereid om die strydbyl te begrawe nie en dit was op die einde Transvalia wat diep gedelf het om, met net ‘n paar sekondes op die horlosie oor, die wendoel te gooi om me t die louere weg te stap.
Valia se beker het oorgeloop van vreugde en aan die teenoorgestelde kant was dit ‘n emosionele einde vir Dokkies.
Dit was boonop die laaste geleentheid vir die matriekleerlinge om hul skool op die netbalbaan te verteenwoordig.
Carla van Schalkwyk, kaptein en doel van Transvalia, het na afloop van die wedstryd gesê dat dit ‘n opwindende wedstryd was, hoewel haar span aanvanklik gesukkel het om hul ritme te vind.
“Ons was goed voorbereid. Al het die doele bietjie gesukkel, het hulle die wedstryd deurgetrek,” het sy gesê. Volgens haar is hulle visier nou op die Gauteng- en Suid-Afrikaanse Kampioenskappe.

