News

Ek sê maar net… Spoedvrate pas op vir slaggate

RUBRIEK - Slaggate in die pad veroorsaak ongelukke, maar so ook mense wat te vinnig ry, dronkbestuur, op sperstrepe verby gaan en net oor die algemeen reëls verontaagsaam.

RUBRIEK – Maandagoggend kry ek ‘n oproep oor ‘n slaggat in die pad. Waar is die gat? Dis uit op die Potchefstroom pad, Vaaloewer se kant toe.

Nie heeltemal my tipe storie nie, maar om op ‘n Maandag bietjie te kan uitry geval my wel. Koop eers ‘n koeldrank en kry toe koers op die Barrageweg.

Net een van vele ongelukke veroorsaak deur die slag gat wat dwarsoor die pad strek. Foto verskaf

Van die kruising van die dood (oeps, skuus die lewe soos wat party dit nou noem) is die pad baie mooi. Nie ‘n gat in sig nie. Ek draai af op die Potch pad. Pad ry lekker.

Vlak voor die plek waar die pad die snelweg kruis beland ek agter ‘n groot trok. Ek is nie lus om op ‘n enkelpad verby te gaan nie en pas my spoed by die trok aan.

Verlustig my in die veld om my, die dam wat altyd baie eende het, die beeste. Elke kilometer is verder van die dorpslawaai. Nie almal geniet dit egter nie.

Kort-kort verskyn daar ‘n motor op spoed vanuit die niet en sonder om twee te dink of flikkerligte te ebruik, jaag hul regs verby my, die trok en sommer die trok voor die trok ook.

En dan word die trokke geblameer vir die ongelukke, dink ek toe nog ‘n bakkie oor ‘n soliede wit streep verby jaag. Ek handhaaf ‘n goeie afstand van die trok voor my, want êrens op die pad is die gat waaroor ek geskakel is.

Was ook nie lank nie toe trap trok rem en ons kom byna tot stilstand. Die beroemde gat gryns oor albei bane. Links is hulle nog besig met opruimingswerk na ‘n vroeër ongeluk die oggend, regs is daar net ‘n moddermassa langs die pad.

Ons sukkel verby. Geen gate verder nie. Ek gaan doen eers die onderhoud in Vaaloewer. Met die terugkomslag stop ek myse Ford Mich op ‘n droë kol en stap nader om foto’s van die gat en omgewing te neem.

Geluk is aan my kant, want daar kom geen motors aan nie. Terug in die motor bêre ek my kamera in die sak en aanskou hoe verskeie vragmotors en motors met ‘n spoed deur die gat ry. Mens sien net stof staan.

Hoe onverskillig wil jy op ‘n pad ry wat bekend is vir slaggate en baie draaie en heuwels het waar mens nie aankomende verkeer kan sien aankom nie?

Ja, ek het net die een grote gat gesien, maar oral op die pad is lasplekke waar die omliggende gemeenskap al self probeer regmaak het.

Hulle maak reg en die motors en vragmotors jaag asof hul betaal word. Dat daar gate is, kan ons die provinsiale regering blameer, maar nadat ek gesien het hoe ry die mense, dink ek baie van die ongelukke het niks met gate te doen nie, maar wel met motoriste wat padreëls ignoreer.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button