
Vir een of ander rede is ek mismoedig. Miskien is dit die uitbreek van bek-en-klouseer wat vleispryse die hoogte gaan laat opskiet… Of miskien is dit ‘n melk tekort wat ons eersdaags in die gesig gaan staar.
Ek weet nie. Ek kan nie my vinger daarop sit nie.
Ek voel soos Genis van Kooperaise-stories, beswaard. Eintlik meer soos die tannie wat op ‘n plaasstoep sit en uitstaar en mismoedig te kenne gee: Al wat ek sien is die vlaktes van verdriet. Iets voel net nie reg nie.
Meeste Suid-Afrikaners sal egter nie dieselfde melankoliese sentiment met my deel nie. Ons is immers mos Wêreldtoetskrieketkampioene. Temba Bavuma se manne het dit nogal op Lords, die heiligdom van krieket, vermag. Maar dis nie al nie, ons is die Wêreldrugby-kampioene, die 2025 Sewesrugby-kampioene.
Boonop is Dricus du Plessis die UFC Middelgewig-kampioen, Rayno Nel is die Wêreld se Sterkste Man vir 2025, Amajita het inderdaad die o20 AFCON toernooi vir die eerste keer ooit gewen, en Akani Simbane is tans die enigste atleet in die geskiedenis om die 100m vir 11 opeenvolgende jare in onder 10 sekondes te hardloop.
So wat kan dit tog wees wat my so pla? In die Romeinse tyd is die frase panem et circenses (“brood en spele”) deur die Romeinse digter, Juvenal, geskep. Dit beskryf die beleid om gratis graan (brood) en skouspelagtige vermaak (spele) te voorsien om die Romeinse bevolking tevrede en politiek gehore te hou.
Dit is gesien as ’n metode om landsburgers se aandag van politieke kwessies en sosiale ongelykhede af te lei. Toe tref dit my. My onderbewussyn is besig om met my speletjies te speel.
Ek’s keelvol dat middelmatigheid gevier word. Ek’s gatvol vir mense en instellings wat die gewone ou op straat se intelligensie onderskat.
‘n Berig wat verlede week op my tafel beland het, het die wielietjies in my kop laat draai. Die inleiding van die berig het soos volg gelees: Emfuleni Local Municipality won a third-place runner-up award for managing to reduce the 2023/24 financial year’s Unauthorised, Irregular, Fruitless, and Wasteful Expenditure (UIFW) by 44%. Huh?
Boonop spog die munisipale bestuurder, April Ntuli, openlik daaroor. UIFW is iets wat in die eerste plek nie moet plaasvind nie. Dis soos ‘n selferkende reeksmoordenaar wat luidkeels daarop trots is dat hy die afgelope 12 maande net ses in plaas van 12 mense vermoor het en dan ‘n staande toejuiging verwag. Nee meneer, hierdie gaan nie deug nie.
Maar soos ons weet gebruik sekere politieke partye al jare die brood en spelestrategie. Veral as dit ‘n algemene nasionale verkiesingsjaar is. Suid-Afrika spog met 13 erkende nasionale vakansiedae, maar ek vermoed dit sal vermeerder moet word om die gepeupel van die regerende partye spoor af te hou. Dis toe dat ek sien dat Cambodia (28), Iran (26) en Sri-Lanka (25) met die meeste vakansiedae ter wêreld spog.
Met dit gee ek bes. Ons probleme is kleiner as Iran s’n en ons sport presteer. Geniet dit, maar moenie dat jou aandag deur kulkunsies afgetrek word nie. Sleg bly sleg en goed bly goed.
