News

‘n Stil stap vir elke hond wat vergiftig is

Hulle wou stil maak met gif, maar die gemeenskap is aangewakker.

HENLEY ON KLIP – Die dood kom soms op vier pote, onverwags en sonder waarskuwing.

Vir Hettie Fowlds het 20 Mei 2025 begin soos enige ander dag, tot sy by haar huis in Henley on Klip aankom en die lewelose liggaam van haar hond, Daisy, in die oprit aantref.

“Ek het onmiddellik geweet wat gebeur het. My wêreld het in skerwe gelê,” sê sy. “My honde is vergiftig.”

Volgens beeldmateriaal wat hulle kon nagaan, is gif glo omstreeks 08:30 daardie oggend oor haar muur gegooi, waarna die honde dit ingeneem het. Die vorige aand is haar hekmotor gesteel.

Omdat sy bang was vir ‘n moontlike kaping sonder ‘n werkende hek, het sy RedOps genader om haar by die huis te ontmoet. Lucky Malindi, ‘n reaksiebeampte, het die hek vir haar oopgemaak – toe sy Daisy se liggaam in die oprit sien lê.

“Ek was verpletter en nie in staat om te funksioneer nie. Terwyl ek haar liggaam vashou, het Lucky die beheerkamer gekontak en dadelik begin help soek na Annie,” vertel sy.

Hettie Fowlds met haar geliefde hond Daisy.

Op daardie stadium was Shadow nog lewend, maar in ‘n veswakte toestand, en Annie was nêrens te vinde nie.

Shadow is inderhaas na ‘n veearts geneem. Hy is opgeneem in intensiewe sorg, terwyl Daisy se liggaam vir verassing agtergelaat is.

Die volgende dag is die soektog na Annie voortgesit. Haar liggaam is in ‘n bos naby die hek gevind.

Die dag daarna het die veearts haar laat weet dat Shadow se toestand versleg het. “Sy organe het begin ingee en hy was in nierversaking. Hoewel elke deel van my hom wou laat lewe, moes ek die pynlike besluit neem om hom te laat gaan.”

Drie honde in drie dae.

Fowlds sê hulle het uitgevind dat ‘n soortgelyke geval op dieselfde dag in Cleeveweg plaasgevind het: hekmotor die vorige aand gesteel, en honde die volgende oggend vergiftig.

Shadow, Daisy en Annie.

Om hul herinnering te eer, word ‘n troeteldiervriendelike gedenkstap op 19 Julie 2025 by Bass Lake gehou.

Toegang is gratis, maar kontant, troeteldierkos of produkte vir Vaalpets word verwelkom. Noodhulppakkies vir vergiftiging sal te koop wees, en inligting oor wat om te doen in sulke situasies sal gedeel word.

“Hierdie stap is nie net vir Daisy, Shadow en Annie nie,” sê sy, “maar vir elke troeteldier en eienaar in ons gemeenskap. Met jou ondersteuning kan ons help keer dat só iets weer gebeur – en terselfdertyd hulpbronne insamel vir Vaalpets.”

‘n Uitnodiging na die poretstap.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button