VEREENIGING – Waar ander hul aftrede op ‘n stoep of rusbank spandeer, is pensionaris John McLaren nog aan die gang tussen sy pappegaaie, kosbakke en broeihokke.
Wat begin het as ’n stokperdjie met ses pare African Greys, het oor dekades gegroei tot ’n besigheid wat nie net plaaslik voëls verkoop nie, maar selfs uitvoer na Dubai.
“Ek het afgetree, maar nooit uitgetree nie,” sê John met ’n glimlag.
Hy boer op ‘n kleinhoewe in die Goeiehoek-omgewing buite Vereeniging, waar hy saam met sy kinders woon. John boer tans met ’n indrukwekkende versameling voëlspesies: African Greys, Galahs, Sun Conures, blou-engeel arapappegaaie, parkiete en ringnekke.
“My skoonseun het my aangesteek,” vertel hy. vliegtuig en vervoer. Hulle het kopers aan die anderkant. Hy was groot in kanaries en vinke, en later African Greys. In die vroeë 1990’s het ek ook begin.”

Dit is egter nie net ’n liefde vir voëls wat John dryf nie, dit is ’n liefde vir werk wat betekenis gee.
“As jy by 100 pare African Greys kom, raak dit ernstig. Jy het mense nodig om te help. Dit is intensief. Elke paar sit in ’n hok met drie bakkies vir kos, water en aanvullings. Daai bakkies en hokke word elke dag reggemaak en skoongemaak.”
Die werk is baie, maar die beloning is emosioneel én ekonomies. “Die mooiste ding op aarde vir my is om die kas oop te maak en wit eiertjies te sien. Dan weet ek: nou het ek ’n toekoms, nou het ek ’n inkomste.”
Hoewel dit as stokperdjie begin het, is sy voëls nou deel van ’n uitvoernetwerk. “Ons werk met agente wat die uitvoer reël. Ons lewer die voëls, hulle reël die vliegtuig en vervoer. Hulle het kopers aan die anderkant.”
’n Kleinhoewe of selfs ’n groot agterplaas is genoeg om suksesvol met voëls te boer,” sê John. “Jy’t nie ’n groot plaas nodig nie. Blokke van 120 werk perfek. Dit is iets wat enige iemand in hul aftreejare kan aanpak.”
John was vir nege jaar burgemeester van Kirkwood in die Sondagsriviervallei in die OosKaap, en het ook vir jare in die regte gewerk. “Ek het altyd my eie besighede gehad. Toe ek 61 geword het, het ek besluit dis tyd om te fokus op die dinge wat ek regtig liefhet.”
In 2006 het John na die Vaaldriehoek verhuis om nader aan hul kinders en kleinkinders te wees. Vandag is hy die trotse oupa van ses kleindogters.
“Ek werk harder nou as toe ek voltyds gewerk het, maar ek het nog nooit so baie vreugde uit iets gekry nie,” sluit John af.

