Onluste op R42
Plaaslike inwoners eis werk – R42 versper met klippe en brandende bande buite Vereeniging.
VEREENIGING – ‘n Protesoptrede het Woensdaggend verkeer op die R42 net buite Vereeniging, in die Mooilande-omgewing, lam gelê.
Die pad is met klippe en bakstene versper en bande is glo aan die brand gesteek.
Volgens ’n boodskap op die WhatsApp-groep Gauteng Vaal Traffic & Emergency Info, het die protes buite Diraro Logistics in Three Rivers begin.
Daar is ook beweer dat voertuie met klippe bestook is, hoewel geen sulke voorvalle bevestig is nie.
Die Vereeniging-polisie en Midvaal Verkeersdepartement was vinnig op die toneel. Geen ernstige voorvalle is aangemeld nie, maar verkeer word steeds ontwrig.
Protesgangers sê hulle eis dat plaaslike werkers van die Midvaal-gemeenskap in diens geneem word by plaaslike besighede, eerder as mense van buite die provinsie.
Motoriste word versoek om die R42 te vermy tot verdere kennisgewing.

