News

Armdrukfenomeen van Meyerton beïndruk by toernooi in VSA

Riekerd Bornman laat Meyerton se trots biceps-bult.

Meyerton mag dalk ’n klein dorpie wees, maar op Saterdagaand 21 Junie het die dorp uit sy nate gebars van trots, spanning en emosie – dié soort wat mens gewoonlik met sportoorwinnings op die met wêreldverhoog assosieer.

Kort voor 20:00 was daar ‘n uitbundige gejuig in die Meyerton Klub.

Riekerd se familie, vriende en plaaslike inwoners het saamgekom om ’n regstreekse uitsending van die East vs. West 18-armdruktoernooi regstreeks uit Chicago te sien. Die toernooi is een van die wêreld se grootste armstoei-toernooie.

Duval Bornman, trotse pa van Riekerd, juig uibundig nadat sy seun vir Wallace Dilley gewen het. Foto: Christiaan Cloete
Ma Mariska sê ‘n skietgebedjie op terwyl sy na haar seun se kragmeting teen Wallace Dilley kyk. Foto’s: Christiaan Cloete

In die kollig was die 21-jarige Riekerd Bornman, oorspronklik van Meyerton, nou woonagtig in Australië. Teenoor hom: die ervare Amerikaanse super-swaargewig, Wallace Dilley.

Dit was Riekerd se debuut by dié toernooi – en hy het 3–1 gewen in ’n kragmeting vol durf, selfvertroue en brute krag.

Riekerd Bornman druk arm teen Wallace Dilley in Chicago.

Maar die ware drama het duisende kilometers verder afgespeel – hier in Meyerton – waar sy ouers, Duval en Mariska Bornman, saam met vriende, familie en plaaslike ondersteuners, elke oomblik van die wedstryd saamgeleef het.

Dit was emosioneel, roerend, intens.

“My pa, my broer… Meyerton… ek sien julle binnekort,” het ’n tranevolle Riekerd ná die wedstryd op die verhoog gesê. “Ek is so lief vir julle, regtig. Baie dankie vir julle ondersteuning.”

Die gehoor in die klub het hande geklap en die binnekant van die Meyerton Klub het gebrul van trots. Vir daardie paar sekondes was dit asof Riekerd daar saam met hulle was.

Mense kyk op ‘n grootskerm by die Meyerton Klub na die armdruk-kragmeting tussen Riekerd Bornman en Wallace Dilley. Foto: Christiaan Cloete

Van rugby tot wêreldverhoog

Riekerd se reis na armdrukglorie was bloot per toeval. Oorspronklik het hy na Australië gegaan om rugby te speel, maar ’n enkelbesering het sy rugbyloopbaan gekortwiek. Op pad na herstel, het hy homself by ’n armstoei-kompetisie by ’n kosmark bevind. Hy het ingeskryf en gewen. Daardie dag het alles verander.

Drie jaar later is hy ’n AWE (Arm Wrestling Entertainment)-kampioen en nou ’n wêreldwye sensasie.

“Dis onwerklik. Dit maak nog nie heeltemal sin nie,” het Riekerd in die vooronderhoud gesê. “Maar ek is reg. Ek voel perfek. Dis tyd om dit te wys.”

Riekerd Bornman is op 22 al ‘n AWE-armdrukkampioen.

’n Gesin gebou op krag en karakter

Fisieke krag het nog altyd deur die Bornman-familie se are gebruis. Riekerd se jonger broer, Duvan, het op net 16 reeds die seniors se super-swaargewigafdeling in die SA nasionale kampioenskappe gewen.

Hul pa Duval, ’n reus van ’n man teen 1.93 m en 130 kg, het nooit formeel aan sport deelgeneem nie, maar die genetika vir brute krag is duidelik.

Riekerd se pa, Duval Bornman (links), wat hom van ‘n jong ouderdom af aan die sport van armdruk voorgestel het en Duvan Bornman, Riekerd se jonger broer, om die armdruktafel by hul huis in Rothdene, Meyerton.

“Ek verras myself meestal,” het Riekerd eenkeer gesê. Maar niemand in die klub was Saterdagaand verras nie. Hulle het reeds geweet wat in hom steek.

“Ons is ewe groot, ewe swaar,” het hy voor die wedstryd gesê. “Dis soos om teen myself te veg. Dit gaan afhang van wie die sterkste is vandag.” En Saterdag was Riekerd daardie man.

Duvan Bornman (broer), Mariska Bornman (ma) en Duval Bornman (pa) saam by Meyerton Klub om Riekerd se armdruk-kragmeting teen Wallace Dilley in Chicago op die grootskerm by Meyerton Klub te kyk.

Die pad vorentoe?

Riekerd rus nie op sy louere nie. “Ek’s reg vir die volgende een, Boet,” het hy met ’n glimlag ná die wedstryd aan sy volgende opponent gesê.

Maar vir nou is Suid-Afrika – en veral Meyerton – trots, dankbaar en gevul met bewondering.

Toe die uitsending eindig, het Duval sy vuiste in die lug gegooi. Mariska het haar hande gevou in gebed – emosie op haar gesig afgeets.

En 14 000 km daarvandaan het Riekerd Bornman geweet: sy mense het saam gewen.

Riekerd oefen in die gym.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button