News

Moordsaak word vir die soveelste keer uitgestel

Vier jaar ná ’n bloedige nag wag Lotz se familie steeds vir geregtigheid.

BENONI – Die vonnisoplegging in die moordsaak teen Raymond Metz en vyf medebeskuldigdes, insluitend sy broers en hul ma, is wéér uitgestel.

Raymond Metz, sy broers Shane, Simon, Anton ‘Babatjie’, asook hul ma Lindi Falch is in April 2024 skuldig bevind aan die moord op Benjamin Lotz van Leeuhof, Vereeniging.

Raymond Metz praat met sy ma, Lindi Falch, wat koponderstebo in die beskuldigdebank sit na die skuldigbevinding. Foto: Christiaan Cloete

Die beskuldigdes moes op 30 Junie vir vonnisoplegging in die rondgaande hooggeregshof in Benoni verskyn, maar weens nog ‘n vertraging met die voorvonnisverslae kon die hof weer nie voortgaan nie.

Regter Carla van Veenendal het die saak uitgestel na die week van 22 September.

Intussen is die borgtog van al die beskuldigdes weer verleng.

Benjamin Lotz is dood op die vloer van sy huis in Leeuhof aangetref. Foto: Verskaf

Die hof het in April verlede jaar bevind dat die beskuldigdes gesamentlik verantwoordelik is vir die dood van Lotz na ’n gewelddadige aanval by sy huis.

Die konflik het glo ontstaan nadat Lotz vir Raymond en ‘n vriend, Estifaan Delport, gekonfronteer het oor hul luidrugtige musiek in ’n veld oorkant sy huis gespeel het.

Later die aand is Estifaan, Raymond, sy broers en hul ma, Lindi Falch na Lotz se huis, waar hulle die slagoffer met pangas, grawe en bakstene aangeval het.

Lotz het later aan beserings wat hy tydens die aanval opgedoen het beswyk.

Shane Metz en sy broer, Simon Anton “Babatjie” Metz, in die beskuldigdebank in die rondgaande hooggeregshof in Benoni. Foto: Christiaan Cloete

Delport het staatsgetuie gedraai en die klagtes teen hom is teruggetrek.

Intussen het Lotz se familie hul ongelukkigheid uitgespreek oor die aanhoudende uitstel in die saak en die feit dat die beskuldigdes se borgtog elke keer verleng word, terwyl hulle al vir vier jaar wag dat geregtigheid geskied.

Die hof het egter beklemtoon dat dit vasbeslote is om ‘n deeglike en ingeligte vonnis te lewer.

Lindi Falch verlaat die Benoni-landdroshof. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button