Arnel groet True Blue met trane én trots
Na duisende uniforms en net soveel herinneringe, groet Arnel van Wyk haar geliefde skoolwinkel om nuwe drome in bakstene en dakteëls te gaan bou.
MEYERTON – Vir sewe jaar lank was Arnel van Wyk die hartklop agter True Blue, die klerewinkel van Hoërskool Dr. Malan. Maar nou pak sy haar tasse – dié keer nie met Dokkies se sportdrag nie, maar met drome van ’n nuwe loopbaan in die eiendomswêreld.
“Ek dink ek het ’n duisend foto’s. Ek huil al vir twee dae sonder ophou. Dit was nie vir my so maklik om weg te stap nie,” sê sy met ’n bewerige stem.
“Ek is al deel van die meubels. Meyerton het my gemaak wie ek vandag is, en mens moet altyd op ’n high afsluit.”
Arnel het op 2 Augustus 2018 by True Blue begin nadat Wendy Thomas, destydse voorsitter van die beheerliggaam, en mnr. Rossie Briers, skoolhoof, haar genader het om die skool se droom van ’n skoolwinkel op die terrein te verwesenlik.
Ná 23 jaar in die klere- en tekstielbedryf, was sy die perfekte pasmaat.
“Skoolklere is uitdagend,” vertel sy.
“Almal het altyd klere nodig, maar dit was soms ’n ongelooflike groot uitdaging.”
Haar mooiste herinneringe? “As ek by byeenkomste kom en sien hoe pragtig die kinders lyk in hul uniforms. Daardie trots… dit was die beste gevoel ooit.”
Maar die pad was nie altyd maklik nie. “Jy moet elke dag jou beste diens lewer, want jy het ouers, kindertjies, onderwysers en kompetisie. En deadlines… jis, dit was soms benoud!”
Nou wag die eiendomsmark. “Ek wil net soveel huise verkoop soos ek truie en ski pants by True Blue verkoop het. Ek hoop die mense wat in my geglo het, sal steeds in my glo.”
Met trane en dankbaarheid sê sy: “Dankie vir sewe ongelooflike jare. Dankie aan die gemeenskap wat True Blue so mooi ondersteun het. My grootste wens is dat almal vir Millie en Louwrens Meintjes (die nuwe eienaars) net soveel steun sal gee. True Blue is Dr. Malan se trots.”

