VANDERBIJLPARK – Die 10de Rhinoweek vir rugby, hokkie en netbal wat vandeesmaand by die VUT Isak Steyl-stadion, Hoërskool Transvalia en Curro aangebied is, was ‘n reusesukses.
Daarvan sal enigeen getuig wat dit bygewoon het. Die netbal wat soos die verlore seun sy terugkeer tot die Rhinospyskaart na ‘n afwesigheid van amper ‘n dekade gemaak het, is met ope arms verwelkom.
Volgens Martin van Wyngaardt, president van die Rhinoweek, is hy in sy noppies met die verloop van die onderskeie weke. “Alles het seepglad verloop. Daar was geen klagtes nie en die gees by die week was ongelooflik.
Ons sien uit daarna om die netbalweek op streekvlak uit te brei,” het hy na die toernooi gesê. Nadat die Rhinoweek se bestuur in beginsel goedkeuring van Gauteng Sport en Suid-Afrikaanse Skolenetbal gekry het, het die Van Wyngaartd-span met Adri Olivier aan die spits die toernooi begin beplan en die res is soos hulle sê, geskiedenis.
