Gemeenskap stap stil-stil vir vergiftigde troeteldiere
Honderde harte het saam gestap vir dié wat nie meer blaf of miaau nie.
Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (25 – 31 Julie) verskyn. Kry ons koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.
MEYERTON – Meer as 200 mense, saam met hul viervoetige vriende, het op 20 Julie aan ’n stille stap by Bass Lake deelgeneem om vergiftigde troeteldiere te herdenk – en om hoop, genesing en bewusmaking te bring.
Hettie Fowlds, wat die geleentheid gereël het ná die hartverskeurende verlies van haar honde, sê sy is diep geraak deur die massiewe opkoms.
“’n Stukkie van my hart het daardie dag genees. Ek sou al gelukkig gewees het as tien mense opgedaag het – maar toe kom daar honderde.”
Benewens die emosionele waarde, het die stap ’n reuse verskil vir Vaalpets gemaak.

Altesaam R6 220 is in kontant ingesamel, met bykomende EFT-skenkings en talle produkte: onder meer 223kg hondekos, 15kg katkos, komberse, troeteldierklere, blikkies kos, ’n bababad, ’n hondebed – en selfs drie aannemings.
Fowlds het spesiale dank uitgespreek aan Meyerton Atletiekklub, Bass Lake, Vaalpets, en talle ander individue en besighede wat bygedra het.

“Om die stap sonder my getroue metgesel Daisy te doen, was hartverskeurend.”
“Maar om haar en my ander honde só te vereer, het betekenis gegee aan hul dood. Ek probeer myself herinner: hulle het nie verniet gesterf nie.”

Fowlds sê die oorweldigende belangstelling beteken die stap sal waarskynlik ’n jaarlikse gebeurtenis word.
Enigiemand wat Vaalpets wil ondersteun, kan bydra met geld, kos of bruikbare produkte.
Skenkings kan gemaak word aan Vaalpets (Standard Bank, rekening: 026554933, takkode: 016641, verwysing: BASSLAKE WALK)

