Groot klap vir voormalige N-e-FG bestuurders
Plaaslike pensioenarisse en werkers van die Vaaldriehoek se spaargeld het verdwyn as gevolg van die bestuur en belegging deur N-e-FG Fund Administrators, maar die uitspraak teen die voormalige direkteure bied ten minste ’n bietjie versekering dat daar nog vir geregtigheid geveg word.
VANDERBIJLPARK – Drie voormalige direkteure van die omstrede N-e-FG Fund Administrators het ’n groot regsklap gekry toe hul poging om reuse boetes en jarelange beroepsverbod omver te werp, misluk het.
N-e-FG Fund Administrators was ’n pensioenfondsadministrateur wat vir werkgewers en fondslede die bestuur, administrasie en belegging van hul aftreespaargeld hanteer het, maar die maatskappy het in 2021 ineengestort nadat die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FCSA) bevind het dat fondsgeld buite die voorgeskrewe beleggingsmandate gebruik is, wat tot verliese van sowat R470m vir lede gelei het.

Corné Jansen van Rensburg en Erik du Preez het elk ’n boete van R30m gekry en mag vir 30 jaar nie weer in die finansiële bedryf werk nie.
Steyn Jansen van Rensburg het ’n boete van R8m gekry en is vir 20 jaar verban. Die FSCA het reeds in 2021 N-e-FG se lisensie teruggetrek nadat bevind is dat pensioenfondsgeld nie volgens die beleggingsmandate gebruik is nie, maar eerder in hoërisiko-projekte gesteek is.

Die drie het by die Finansiëledienste-tribunaal gepleit dat hulle net nalatig was en nie met opset bedrog gepleeg het nie.
Vir plaaslike pensioenarisse en werkers wie se spaargeld verdwyn het, bied die uitspraak ten minste ’n bietjie versekering dat daar nog vir geregtigheid geveg word, al kom die geld dalk nooit terug nie.
Hulle het selfs aangevoer dat ’n “onbekende geldskieter” bereid sou wees om die volle bedrag terug te betaal. Maar die tribunaal het hul aansoek as ligsinnig afgemaak en gesê daar is waarskynlik wél met kriminele opset opgetree.

Die besluit beteken die boetes en verbod bly in plek.
Volgens regter Louis Harms is die verbod nie wraak nie, maar ’n beskerming vir die publiek teen finansiële rolspelers wat nie vertrou kan word nie.

Vir plaaslike pensioenarisse en werkers wie se spaargeld verdwyn het, bied die uitspraak ten minste ’n bietjie versekering dat daar nog vir geregtigheid geveg word, al kom die geld dalk nooit terug nie.

