Riekerd Bornman triomfeer in VSA
Meyerton se Riekerd Bornman wen groot in die VSA – kyk hoe hy die wêreld-arena oorheers!
MEYERTON – Die Suid-Afrikaanse armdrukfenomeen Riekerd Bornman het verlede maand sy tweede armdrukkragmeting by East vs West gewen toe hy die Oekraïense armdrukker Pavlo Derbedyenyev tydens East vs West 19 uitgestof het.
Die geleentheid het op 15 Augustus by die Blue Federal Credit Union Arena in Loveland, Colorado, in die VSA plaasgevind.

Riekerd, wat tans in Brisbane, Australië woon, het die afgelope paar jaar sy merk by die Australiese AWE gemaak voordat hy vroeër vanjaar internasionale aandag met die East vs West-reeks getrek het.
Die kragmeting moes teen Derbedyenyev, ’n indrukwekkende fisiese teenstander, gevoer word, maar het vroeër as beplan geëindig toe hy ’n boarmbesering opgedoen het.
“Ek voel verskriklik vir wat met Pavlo gebeur het,” het Riekerd ná die kompetisie gesê. “Hy is ’n wonderlike teenstander en lieflike mens. Ek is regtig jammer.”
Derbedyenyev het die besering as ’n ongelukkige voorval beskryf, maar beklemtoon dat dit nie die einde van sy armdrukloopbaan beteken nie.
Hy het Riekerd as ’n “ongelooflik sterk en natuurlik slim armdrukker” geprys en gesê dat hy graag weer teen hom sal armdruk sodra hy wedstrydgereed is.
Voor die kragmeting het Riekerd in ’n onderhoud gesê hy het sy werk as skrynwerker opgegee om hom volledig aan armdruk toe te wy. “Ek wil die beste wees,” het hy gesê. “Selfs al neem dit vyf tot 10 jaar, ek wag.”
Met hierdie oorwinning bou Riekerd voort op sy indrukwekkende internasionale loopbaan en bewys hy dat Suid-Afrikaanse talent nie net in die land floreer nie, maar ook wêreldwyd kan meeding.
Die volgende uitdaging wag reeds, en die armdrukwêreld hou asem op vir wat hierdie jong fenomeen volgende gaan bereik.
