Paramedikus wat ander red, benodig nou hulp
Ná 35 jaar van mense help, het dié paramedikus nou ons hulp nodig.
MEYERTON – Johan Griessel, ‘n gesoute paramedikus en brandweerman van Vereeniging wat al 35 jaar in die nooddienste dien, se lewe het ‘n paar jaar gelede handomkeer verander.
Johan, wat etlike dekades lank pasiënte en ongelukslagoffers gehelp het, is nou self van ander se hulp afhanklik nadat ‘n ernstige knie-infeksie hom in ‘n rolstoel gelaat het.

In November 2021 het hy ‘n knievervanging ondergaan, maar kort daarna het hy ‘n gevaarlike bakteriële infeksie opgedoen wat sy spiere aangetas het.
In 2022 alleen het Johan 28 weke in die hospitaal deurgebring.
Medici het antibiotika van Amerika en Frankryk ingevoer en gebruik om die infeksie te beheer.
Die Lautenbach-prosedure, ‘n behandeling waarin die been voortdurend met antibiotika gespoel word om die infeksie te beheer, het uiteindelik sy been gered.

Tog moes sy patella verwyder word, en vandag kan Johan nie meer sonder hulp loop nie.
Hy kan ook nie meer werk nie en is afhanklik van ander vir alledaagse take.
Frontline of Hope Ministries, gelei deur paramedikus Lance Oosthuizen, het ‘n fondsinsameling vir ‘n elektriese rolstoel van stapel gestuur.
In ‘n video wat wyd op sosiale media gedeel word, sê Lance: “Johan het sy deel gedoen vir sy medemens. Vandag het hy ons hulp nodig en U kan ‘n verskil maak.”
@diestorie Kom ons wees daar vir Johan soos hy vir talle pasiente en slagoffers was. Om ‘n donasie te maak: Frontline of Hope: Bank: Capitec Business Account Number: 1051755883 Account type: Checque / Current Reference: Johan
Donasies kan gemaak word in die FNBbankrekening van Frontline of Hope.
Die tjekrekeningnommer is 621 123 45678, en gebruik asseblief die verwysing: Johan.
Mense kan Lance by 082 809 2141 kontak vir meer inligting.

‘n Fondsinsamelingskonsert vir Johan vind ook op 11 Oktober om 10:30 vir 11:00 by Laerskool Vryheidsmonument in Vereeniging plaas.
Die sanger Francois Boyce sal net vir dames optree.
Kaartjies kos R300 en sluit ‘n ligte maaltyd in.
Kontak Mia by 082 332 0042 of Patricia by 081 414 2766 vir kaartjies. Daar sal ook ‘n gelukstrekking en stalletjies tydens die oggend wees.
