Drie lede van vermeende gewelddadige sindikaat in Vereeniging vasgetrek
Drie lede ‘n sindikaat wat glo vir maande lank ‘n skrikbewind in die Spider Valley-omgewing gevoer het is vas.
VEREENIGING – Drie vermeende lede van ’n gewelddadige misdaadsindikaat is Donderdag in hegtenis geneem ná ’n maande lange ondersoek waarin verskeie wetstoepassingsagentskappe betrokke was.
Die groep word verbind met meer as 40 ernstige misdade sedert Maart vanjaar in die Mario Milani-rylaan-gebied — ook bekend as “Spider Valley” – insluitend gewapende roof, ontvoering, aanranding, verkragting en moord.
Volgens die private sekuriteitsmaatskappy Sekuriteit Sonder Grense én die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPS) het Vereeniging SAPS vroegoggend op Donderdag 23 Oktober ’n leidraad ontvang wat tot ’n hoëspoed jaagtog gelei het.
Verskeie gespesialiseerde eenhede is onmiddellik ontplooi, onder meer die Sedibeng Flying Squad, Sedibeng Infrastructure C-Relief, Sekuriteit Sonder Grense, Midvaal Peace Officers en lede van buurtwagstrukture.
Twee verdagtes is uiteindelik aangekeer.
Kontant wat glo minute voor die arrestasie gesteel is, asook selfone en kledingstukke wat reeds deur slagoffers van vorige voorvalle geïdentifiseer is, is op die toneel herwin.’
Inligting uit dié arrestasies het gelei tot die vinnige opsporing en arrestasie van ’n derde verdagte later dieselfde oggend.
Die polisie het bevestig dat die drie verdagtes aanklagte van gewapende roof en verkragting in die gesig staar, met verdere moontlike aanklagte wat wag soos die ondersoek voortgaan.
Hulle sal binnekort in die landdroshof in Vereeniging verskyn.
Waarnemende distriksbevelvoerder brig. Mbhangwa Nkhwashu beskryf die arrestasies as ’n “beduidende deurbraak wat verligting bring vir die gemeenskap van Vereeniging”.
Die ondersoek duur voort, en verdere inhegtenisnemings word nie uitgesluit nie.
