News

Loop lig vir kindersiekte wat feestyd kan versuur

Met die Desembervakansie op hande waarsku plaaslike gesondheidskenners dat die hoogs aansteeklike siekte maklik onder jong kinders versprei

SASOLBURG – Met die Desembervakansie om die draai en jong Valies, asook kinders regoor Suid-Afrika, wat uitsien na son, see en speeltyd saam met maats, waarsku gesondheidskenners ouers om waaksaam te bly vir die tekens van hand-voet-en mondsiekte (HVMS). Hierdie hoogs aansteeklike virale infeksie tref veral jong kinders en versprei maklik in groepe – van kleuterskole tot speelparke en selfs familiebyeenkomste.
Ster Suid is bewus van twee Bloemfonteinse skole wat voorvalle van hierdie siekte vroeër vandeesmaand aangemeld het. Hoewel die Vaaldriehoek sowat drie uur se reis per motorvoertuig van Bloemfontein af geleë is, is die verhoogde beweging van mense oor die opkomende feestyd ’n risiko vir verdere verspreiding van die virussiekte.
HVMS word veroorsaak deur infeksie met die Coxsackie-virus, ’n RNS-virus wat tot die enterovirus-genus behoort. Die eerste tekens van infeksie is gewoonlik koors en ’n algemene gevoel van ongesteldheid, gevolg deur ’n kenmerkende uitslag op die handpalms, onder die voetjies en in die mondjie.
Ouers kan HVMS maklik onderskei van ander algemene kinderuitslae omdat dit tipies net op hierdie areas voorkom.
Gesondheidspraktisyns in die Vaaldriehoek waarsku dat volwassenes dit ook kan opdoen.
’n Geneesheer behoort die diagnose te bevestig, waarna gesondheidsriglyne daarop dui dat diegene wat besmet is vir minstens sewe dae isoleer om verspreiding van die virus te beperk.
Volgens plaaslike gesondheidswerkers is koorsbeheer en simptomatiese behandeling die kern van sorg.
Gesondheidskenners beklemtoon dat goeie higiëne van kardinale belang is. Gereelde handewas met seep, die ontsmetting van oppervlakke, en om noue kontak met iemand wat siek is te vermy, kan help om infeksie te voorkom.
Alhoewel die naam vir sommige verwarrend mag wees, hou hand-voet-en-mondsiekte geen verband met bek-en-klouseer onder diere nie, wat tans in groot dele van die land voorkom. HVMS word deur ’n menslike virus veroorsaak en nie deur dieselfde virus wat gesplete hoefdiere besmet nie.
Ouers en versorgers word dus aangeraai om waaksaam te bly, gesonde higiënepraktyke te handhaaf en so gou moontlik mediese hulp te soek indien enige simptome voorkom.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Elsjé Smit

Elsjé Smit
Back to top button