News

Dr. Malan-skuts blink uit by nasionale kampioenskap

Met vaste hande en skerp fokus het Dr. Malan se skuts hul mededingers uitgestof.

MEYERTON – Hoërskool Dr. Malan se skuts het onlangs met uitstaande prestasies gespog tydens die 10de Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) se Junior Nasionale Kampioenskappe wat op 10 en 11 Oktober in Welkom aangebied is.

Altesaam 20 leerders van die skool, wat deel vorm van die SA Jagters Suikerbosrand-tak, het aan die kampioenskap deelgeneem en hul merk gelaat in verskeie afdelings. Die Dokkies het nie net met ’n indrukwekkende aantal medaljes huis toe gekom nie, maar 13 van die leerders het ook Nasionale Kleure by SAJWV verwerf – ’n groot prestasie wat die skoolgemeenskap met trots vervul het.

’n Groep van 20 leerders van Hoërskool Dr. Malan, wat deel vorm van die SA Jagters Suikerbosrand-tak, het aan die SAJWV se Junior Nasionale Kampioenskappe in Welkom deelgeneem – en met uitmuntende prestasies gespog.

Onder die uitblinkers was Elzy Aggenbach (o.16), wat twee goue medaljes gewen het in die Druklug– en Randslag-afdelings.

Haar suster, Zanté Aggenbach (o.18), het ’n derde plek in die Druklug-afdeling behaal, terwyl Tanya van Niekerk (o.18) ’n derde plek in Randslag ingepalm het.

Daniel Jordaan (o.18) het besonder goed gevaar met drie goue medaljes – in Randslag, Veerlug en Druklug-geweer.

In totaal het die Dr. Malan-skuts vyf eerste plekke en twee derde plekke behaal – ’n uitsonderlike prestasie vir die span van 51 lede van die Suikerbosrand-tak wat aan die kampioenskap deelgeneem het.

Die skool het sy trots uitgespreek oor die leerders se toewyding, dissipline en harde werk, wat nie net hul eie naam nie, maar ook dié van Hoërskool Dr. Malan en die breër Meyerton-gemeenskap hoog hou.

Elzy Aggenbach en Daniël Jordaan, albei trotse Dokkie-skuts, met die toekennings wat hulle by die SAJWV Junior Nasionale Kampioenskap 2025 ontvang het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: [email protected]
Back to top button