Oom roelf sal jou rol!
Oom Roelf bewys dat ouderdom net ’n nommer is — en stoei sy pad na silwer!
MEYERTON – Waar ander mans van sy ouderdom dalk hul pantoffels sou aantrek, trek Oom Roelf Laubscher (73) sy stoeiskoene stywer vas.
Die veteraanstoeier van die dorp het onlangs in Pole aan die Wêreld Meesters Stoeikampioenskappe deelgeneem en twee silwermedaljes huis toe gebring.

Die kampioenskap is van 4 tot 5 Oktober by die AWF-sportkompleks in Warskou gehou en het die wêreld se top-meesterstoeiers in beide Grieks-Romeinse en Vrystyl bymekaar gebring.
Laubscher, wat in Kategorie G (80 – 90 kg) meegeding het, het teen stoeiers van die VSA, Duitsland en Pole kragte gemeet.

Hy het uiteindelik tweede geëindig in beide style, ’n uitsonderlike prestasie vir iemand wat sy sport in die dae van internasionale sanksies nie op wêreldvlak kon beoefen nie.
“Stoei was nog altyd my passie,” vertel hy. “In daardie dae kon ek nie wêreldkampioenskappe toe gaan nie. Hierdie was vir my ’n gulde geleentheid.”

Sy voorbereiding was alles behalwe maklik.
Elke week het hy oefensessies in Pretoria bygewoon, meeste Saterdae het hy die Meyerton-parkrun gehardloop, en elke oggend om vyfuur opgestaan om te oefen.
Teenstanders uit die VSA en Pole het hy redelik gemaklik hanteer, maar teen die Duitser, Wilhelm Schroeder, moes hy sy meerdere erken.
“Hy het my behoorlik pakslae gegee,” sê Oom Roelf met ’n glimlag. “Ek is teleurgesteld, maar ek is ’n sportman, volgende jaar probeer ons weer vir goud.”

Vir jong stoeiers het hy ’n eenvoudige boodskap: “Dis nooit te laat om jou drome na te streef nie. Werk hard, hou jou fokus op Jesus, alles is genade.”
Met sy blik reeds op die Suid-Afrikaanse en Wêreldkampioenskappe van 2026, bewys Oom Roelf Laubscher dat ouderdom geen verskoning is om jou drome te laat vaar nie.

