Nog vier sluise by Vaaldam oopgetrek
Vier bykomende sluise sal Woensdag by die Vaaldam oopgetrek word.
DENEYSVILLE – Volgens ’n WhatsApp-boodskap van die Departement van Water en Sanitasie (DWS) sal daar Woensdag vier bykomende sluise by die Vaaldam oopgetrek word om meer water vry te stel.
Dit sal die totale aantal oop sluise van drie na sewe laat styg.
Die sluise sal onderskeidelik om 10:00, 11:00, 12:00 en 13:00 oopgetrek word.
Die jongste data van 25 November 2025 wys dat die Vaaldam op 101,86% staan, met ’n invloei van 873 m³/s en ’n uitvloei van 346,3 m³/s. Die Vaalbarrage het ’n watervlak van 7,3 m en ’n uitvloei van 480,6 m³/s.
Watervloei van die Grootdraai-dam, wat die Vaaldam voed, sal na verwagting ook styg en ’n verhoogde invloei na die Vaaldam veroorsaak.
Die opening van die ekstra sluise is deel van roetine-vloei bestuur om veilige damvlakke en afvoer na downstream areas te verseker.
Die status quo by Bloemhofdam bly onveranderd, en inwoners word aangeraai om slegs amptelike DWS-kennisgewings vir opdaterings te volg.
