Dagdrome word realiteit vir Caitie Rock
Die jong Vaaldriehoekse sangeres Caitie Rock se droom het waar geword! Die 15-jarige het saam met Juan Boucher en Francois Kleynhans die popsnit “Desember Dagdroom” geskep — ’n lied wat haar lewenslus en jeugige optimisme perfek vasvang.
MEYERTON – Twee jaar gelede het Caitie Rock, ’n 15-jarige sangeres van die Vaaldriehoek, vir Juan Boucher by een van sy vertonings gevra om vir haar ’n lied te skryf.
Twee jaar later het daardie droom waar geword. Juan het na haar vorige musiek geluister, vrae gevra, en saam met Francois Kleynhans het hulle Desember Dagdroom geskep — ’n helder, sonnige popsnit wat perfek pas by Caitie se lewenslus en jong optimisme.
Die lied – wat vandag uitgereik is – vang die essensie van ’n dagdromer; iemand wat tussen boeke en somme sit en wag vir die somer.
Caitie, wat uitblink in sang, drama, sport en modelwerk, het haar eerste mikrofoon op die ouderdom van nege in ‘n sangkompetisie gewen.

Op 15 het sy reeds ’n selfgeskrewe debuutlied, ’n rol in Annie, die temalied van Noordvaal-hokkie, én ’n radiotreffer agter haar naam.
Desember Dagdroom is nou haar nuutste prestasie en bewys dat sy nie net drome droom nie, maar dit ook laat gebeur.

Die musiekvideo, verfilm deur Leon Barnard, is plaaslik geskiet, met tonele by Caitie se skool, die Hoërskool Dr. Malan, die Meyerton Publieke Swembad, langs die rivier, en selfs op een van Meyerton se bekende plaaslike tuk-tuks.
Die laaste rivier-tonele moes vinnig geskiet word toe die sluise oopgemaak is en die water skielik begin styg, wat ’n dramatiese en onverwagte oomblik vir die opname geskep het.
Vir Caitie is Desember Dagdroom meer as net ’n enkelsnit — dit vier haar kreatiwiteit, haar tuisdorp en die lewenslus van jeug.

