Meyerton-groep HKJK bring plaasvibes met nuwe enkelsnit
Dis stofpaaie, vuurmaak en goeie vibes — niks meer nie, niks minder nie.
MEYERTON – Die plaaslewe, grondpaaie en die belofte van ’n oop vuur vorm die hart van Bosveldnooi, die nuwe enkelsnit wat die plaaslike musiekduo HKJK Vrydag vrygestel het.
HKJK, wat bestaan uit Johan van Rooyen (16) en Kosie Beukes (19), albei van Meyerton, bou voort op die ligte, toeganklike klank waarmee hulle in 2025 hul debuut gemaak het.
Van Rooyen is vir plaaslike musiekliefhebbers bekend as ’n lid van die 4 Eva Young Band, terwyl Beukes reeds ’n gevestigde en veelsydige musikant is wat meer as 14 instrumente kan speel en ook kitaar speel vir die Afrikaanse kunstenaar Prop.
Bosveldnooi is ’n Afrikaanse pop-country liedjie wat doelbewus eenvoudig bly. Volgens die groep gaan die lied oor “die gevoel van die plaas, die opgewondenheid as jy die grondpad slaan en die saligheid van ’n vuur wat brand”.

“Ons wil net gelukkigheid skep met die liedjie,” sê Johan van HKJK.
Die musiekvideo versterk dié tema met sterk visuele beelde: stofpaaie, ’n Toyota Land Cruiser, instrumente op ’n plaaswerf en speelse tone wat nie te ernstig opgeneem wil word nie. Dit is lig, herkenbaar en duidelik daarop gemik om saamgesing te word.
Die gevoel van die plaas, die opgewondenheid as jy die grondpad slaan en die saligheid van ’n vuur wat brand.
Bosveldnooi is geskryf deur Kosie Beukes en Johan van Rooyen, met Beukes ook as vervaardiger. Die enkelsnit is reeds op alle digitale platforms beskikbaar, met die musiekvideo op YouTube, waar dit teen Vrydagmiddag reeds nagenoeg 1 000 kyke gelok het.
HKJK beskryf hulself as ’n groep wat nie voorgee om iets groter te wees as wat hulle is nie — net twee musikante wat musiek wil maak en mense laat ontsnap.


