Hondevergiftigings aan die toeneem in Midvaal
Die gemeenskap word gewaarsku oor ’n toename in hondevergiftigings.
MEYERTON – Inwoners van Wyk 13 van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit word versoek om ekstra waaksaam te wees na ’n reeks hondevergiftigings in die area.
Wyksraadslid Gerrit Viljoen het bevestig dat drie honde Woensdagaand op dieselfde eiendom in Lethabostraat, Riversdale, vergiftig is.
Volgens Viljoen wys geslotekring-beeldmateriaal dat die honde steeds in die tuin geloop het rondom 03:00, wat sensoriese ligte geaktiveer het.
Die vergiftiging het waarskynlik tussen 03:00 en 05:00 plaasgevind.

Van die vier honde op die eiendom het slegs een van die honde het oorleef, en ongelukkig was een van die dooie honde swanger.
Volgens Viljoen blyk dit dat vergiftigings soos dié deel is van ’n ontstellende tendens.
Soortgelyke voorvalle is ook in Boltonwold, Neslonia, Sherman Park en Kookrus aangemeld, en in sommige gevalle het oortreders dae later teruggekeer om in te breek.
“Mense moet maar wakker wees. Hou geaktiveerde koolstof aan – dit kan by die veearts aangeskaf word – en oorweeg ook die gebruik van toesigkameras en sensoriese ligte of “beams” om die tuin en troeteldiere te beskerm,” sê Viljoen.
Hy doen ook ’n beroep op inwoners om voorsorgmaatreëls te tref en enige verdagte aktiwiteite onmiddellik aan te meld.
Troeteldiereienaars word aangeraai om hul honde noukeurig dop te hou en enige abnormale voorvalle by plaaslike owerhede aan te meld.

