KI laat Midvaal-musikant se droom vlerke kry
Kunsmatige Intelligensie (KI) het ’n tweede asem aan dié plaaslike musikant se byna verlore droom gegee.
MEYERTON – Hy het vir jare lank probeer musiek maak, in verskillende bands gespeel, akoestiese optredes gehou en sy hart in lirieke uitgestort — maar die droom wou net nie vlerke kry nie.
Vandag ken duisende hom as Blixem Straat, maar vir Pieter Groesbeek (43) het sukses nie oornag gekom nie.
As tiener het hy kitaar begin speel en later in verskeie rock-projekte betrokke geraak.
Hy het by kerke en restaurante opgetree en alles probeer om sy musiekloopbaan aan die gang te kry.
Niks het gewerk nie. Finansiële druk en persoonlike swaarkry het hom uiteindelik selfs van musiek én homself laat wegdryf.
“Ek het hoop verloor,” erken hy.
Toe tref die Covid-19-pandemie — en saam met dit ’n keerpunt. In isolasie het hy weer begin skryf en kunsmatige intelligensie (KI) ontdek as hulpmiddel om musiek te skep.
Ek het alles probeer en nêrens gekom nie…toe ontdek ek KI
“Die lirieke is alles my lirieke. Dit is die menslike aspek van my musiek,” sê hy.
Hy het selfs ou lirieke wat hy jare gelede op servette neergeskryf het, verwerk in sy nuwe skeppings.
Met KI kan ’n lied binne minute vorm aanneem, maar die woorde bly syne.
Die man- en vrouestemme word digitaal geskep.
In Oktober het hy sy treffer Sy is op haar mooiste in my geskeurde T-shirt uitgebring.
Binne vier maande is die lied meer as drie miljoen keer op YouTube gekyk.
Spotifytreffers het gevolg en platemaatskappye het aangeklop.
Volgens Pieter kommunikeer hy gereeld met mede-KIkunstenaar Jakkals Vibes wat deel was van Afrikaans is Groot 2025.
Die twee leer by mekaar en wissel idees uit oor die nuwe golf Afrikaanse musiek.
Pieter eksperimenteer nou ook met regstreekse vertonings en het begin om homself as DJ te ontwikkel om sy musiek na ’n lewendige gehoor te bring.
“Vandag as jy nie KI gebruik nie, mis jy uit,” meen hy.
Wat eens ’n droom was wat nie wou opstyg nie, het nou digitale vlerke gekry.

