Binnegevegte in ANC kelder Sedibeng se begroting
Interne ANC-konflikte kelder Sedibeng se begroting en dienste, meen die VF Plus.
VEREENIGING -Die Sedibeng-distriksmunisipaliteit (Lesedi, Midvaal en Emfuleni), kon nie daarin slaag om die voorgeskrewe aansuiweringsbegroting betyds aan die raad voor te lê nie weens binnegevegte in die regerende ANC.
Rian Lubbe, ‘n VF Plus-raadslid op die Sedibeng-raad sê ‘n aansuiweringsbegroting moes volgens voorskrifte van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) voor 28 Februarie aan die raad vir oorweging voorgelê word. Hierdie sperdatum is egter gemis.
Lubbe meen hierdie krisis het ontstaan nadat die ANC sy speaker, Moipone Modikeng, en burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Lulama Gamede, uit hul poste verwyder het.
ʼn Nuwe speaker is nog nie aangewys nie wat beteken dat raadsittings nie wettig kan plaasvind nie.

Volgens Lubbe ontvang dioe Sedibeng-distriksmunisipaliteit jaarliks sowat R500 miljoen in billike aandele van die Gauteng-provinsiale regering waarvan sowat 80% na salarisse en werknemer-verwante kostes gaan terwyl eie inkomste uit lisensiegeld en verhuring van geboue baie beperk bly.
Hy sê die munisipaliteit se vermoë om basiese verantwoordelikhede uit te voer, het intussen ernstig verswak.
“Een van die mees kommerwekkende voorbeelde is die Vereeniging-lughawe, waarvoor die distrik verantwoordelik is. Dié gerief is in ‘n kritieke toestand van verval met landingsligte wat gesteel is, ʼn onbemande beheertoring en berigte dat selfs diere op die aanloopbaan rondloop,” sê Lubbe.
Die VF Plus het reeds voorgestel dat die lughawe vir veiligheidsoorwegings gesluit word totdat dit herstel kan word.
Die distrik finansier ook vier klinieke in die gebied en bedryf vier lisensiekantore op ‘n agentgrondslag, maar die algemene agteruitgang in bestuur en infrastruktuur bedreig die dienste verder.
Volgens Lubbe het die VF Plus die burgemeester, Lerato Maloka, versoek om prioriteit te gee aan wetlike nakoming en om interne ANC-konflikte opsy te skuif tot voordeel van die inwoners van die distrik.

