Kampioenstoeier bereik 250ste parkrun-mylpaal
Van die stoeimatte van wêreldkampioenskappe tot die paadjies van parkrun – Roelf Laubscher hou steeds aan beweeg.
MEYERTON – Die 71-jarige veteraan-atleet en voormalige wêreldmeestersstoeikampioen, Roelf Laubscher, het ’n besondere mylpaal bereik toe hy in Februarie sy 250ste parkrun voltooi het.
Laubscher het altesaam 250 parkruns voltooi, waarvan 112 by die Meyerton parkrun was. Mede-parkrunners, vrywilligers en familielede het hom ná afloop van die wedloop gelukgewens.
Die Meyerton parkrun vorm deel van die internasionale parkun-beweging wat weekliks gratis 5km hardloop- en stapbyeenkomste vir gemeenskappe wêreldwyd aanbied.

Laubscher blink steeds op die sportgebied uit en is al voorheen as wêreldmeesterskampioen in stoei gekroon.
Hy het verlede jaar tweede geëindig by die wêreldmeestersstoeikampioenskappe in Pole en beoog om vanjaar weer aan die kompetisie deel te neem.
Ten spyte van sy ouderdom kan Laubscher op ’n goeie dag steeds die 5km parkrun in onder 30 minute voltooi, wat sy fiksheidsvlak en toewyding aan die sport demonstreer.
Die 250ste parkrun word as ’n merkwaardige prestasie beskou en dien as inspirasie vir ander sportliefhebbers en gemeenskapslede.

