News

Berugte Bryanston-huurder in hegtenis geneem

Weer in hegtenis: Emile de Witt, ’n man wat in die Vaaldriehoek gereeld in die polisie se soeklig was, is vandeesweek weer gearresteer, hierdie keer oor die diefstal van meubels uit ’n Bryanston-huis.

BRYANSTON – ‘n Man wat berug is in die Vaaldriehoek en glo ‘n luukse eiendom in Bryanston beset het sonder om huur of water- en ligte rekeninge te betaal, is op 19 Maart op aanklagte van diefstal in hegtenis geneem.

Volgens ‘n verklaring deur Mike Bolhuis van Specialised Security Services (SSS) is Emile de Witt, wie se naam gereeld in verband met bedrogsake opduik, in hegtenis geneem vir die diefstal van meubels uit die betrokke woning.

Bolhuis sê die arrestasie is deur lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) uitgevoer en hou verband met die verwydering van meubels uit die eiendom, waar De Witt na bewering sonder betaling gewoon het en kragtens ’n hofbevel moes ontruim het.

Die SAPD het teen druktyd nog nie op navrae gereageer nie, en die presiese klagtes en hofbesonderhede kon nie onmiddellik bevestig word nie.

Vaalweekblad verstaan egter dat De Witt Maandag in die hof sal verskyn.

Daar is in Desember verlede jaar berig oor die eindomsgeskil.

Die huurders van die R8,9-miljoen woning het destyds aan News24 beweer hul huis is deur De Witt gekaap.

Die huiseienaars sê De Witt en sy vriendin het versuim om die maandelikse huur te betaal en geweier om die eiendom te verlaat, ondanks regstappe.

Destyds het die saak as ’n siviele dispuut voorgekom sonder bevestigde strafregtelike aanklagte.

Volgens ’n bron is daar in net een jaar tientalle aanklagte teen De Witt by verskeie polisiestasies in die Vaaldriehoek aanhangig gemaak. Hy het ook soortgelyke sake in ander provinsies gehad en is al verskeie kere gedagvaar om in die hof te verskyn.

Die eienaar van die Bryanston-huis, Veena Jog (63), wat met haar man in Dar es Salaam, Tanzanië, woon, het die eiendom teen R45 000 per maand verhuur.

De Witt en sy vriendin het aanvanklik aangebied om ses maande se huur te betaal en die eiendom later te koop. Die eerste maand se huur en deposito is betaal, maar hulle het later agter geraak met die huurbetalings.

Water- en elektrisiteitsrekeninge was volgens bronne hoog, en sommige rekeninge is nie betyds betaal nie.

SSS sê hul ondersoek ten opsigte van De Witt strek oor verskeie jare en sluit bewerings van bedrog, afpersing en wanvoorstelling in.

SSS versoek lede van die publiek wat moontlik inligting het of meen hulle is op ‘n soortgelyke wyse ingeloop om na vore te kom.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button