Ek sê maar net… Souttert of quiche? Ek dink dis dieselfde.
Die een is 'n woord van Franse herkoms, die ander is Afrikaans soos wat Afrikaans kan kom. Is hulle dieselle of nie? Lees hier meer...
Ek staan in een van Vanderbijlpark se baie supermarkte op soek na iets vir ons vir middagete. In een van die glaskaste is daar terte.
Van ver af lyk dit amper soos gebakte melktert. Ek staan nader. Langs my verskyn ‘n jonge dame.
“Kan ek help?”
“Is daardie soutterte?” vra ek, net so ‘n bietjie aspris, want ek weet wat sy gaan antwoord. Sy trek dadelik haar skouers reguit en kyk op na my toe. Sy is heelwat korter as ek.
“Dis bacon en kaas quiche Tannie,” antwoord sy gebelgd.
“Dis souttert,” dring ek aan. “Ek sal een neem.”
Sy loop om die toonbank. Ek hoor hoe sy sug. “Quiche is dan seker maar net ‘n meer vername woord.”
By die huis smul ons al te lekker aan die spek-en-kaas tert. Dit laat my wonder, is daar ‘n verskil tussen ‘n quiche en ‘n souttert?
Of is dit dieselfde tert met verskillende name? Ek vra vir Antie Google. Sy dink eers diep en gooi toe ‘n ou Facebookblad vir my uit.
Dis ‘n blad oor taal, maar daar het iemand vyf jaar gelede dieselfde vraag gevra. Hy het 88 antwoorde gekry. ‘n Paar tannies het dadelik op hul perdjies gespring toe mense antwoord dat dit dieselfde ding is.
Die een vrou het dit as volg verduidelik: “’n Quiche word gemaak met ‘n kors waarop kaas gestrooi word, die vulsel van keuse bo-op geplaas word en dan afgerond word met eier, melk en room voordat dit gebak word. ‘n Souttert het dikwels ‘n witsous basis.”
Dit het nie die res oortuig nie. “Smaak my ‘n quiche is maar net ‘n fênsie tipe souttert” het die een geantwoord.’n Ander het dit so verduidelik: “As jy middelklas is, is dit souttert. As jy ‘upper-class ‘ is, is dit quiche.”
Dit het duidelik geblyk dat quiche ‘n Franse woord is. Dat die meerderheid voel dis net ‘n gewone souttert en dat die wat nie so gedink het nie, warm onder die kraag geword het oor die ander se ‘onkunde.’
Die een wat ek geglo het, het gesê: “In 1994 het ek ‘n pamflet vir die Eierraad geskryf in Eng en Afr oor ‘n Quiche. Ons het geworstel met die Afr – vlatert is beste vertaling. Ons vra toe vir Unisa se taal dept. Hul antwoord was souttert.” Sela!
