News

Werknemer in plaaslike hardewarebedryf sterf ná motorongeluk

Gemeenskap treur oor verlies van hardeware-werker.

VEREENIGING – Huldeblyke het die afgelope week ingestroom vir Bernardus Nardus ‘Kabous’ Enslin (46), ’n werknemer in die plaaslike hardewarebedryf, wat op 20 Maart oorlede is nadat hy vroeër vandeesmaand in ’n motorongeluk betrokke was.

Enslin was sedert Februarie 2022 as ’n verkoopsassistent by Three Rivers Mica werksaam.

Hy het op 7 Maart in ’n motorongeluk op die hoek van Golfweg en Waterkantstraat beheer oor sy voertuig verloor en ernstige beserings opgedoen.

Hy is per ambulans na Mediclinic Vereeniging vervoer en dieselfde aand na Mediclinic Sandton se kritieke sorgeenheid oorgeplaas vir gespesialiseerde behandeling.

Hy het 13 dae in die intensiewesorgeenheid (ICU) deurgebring voordat hy omstreeks 06:10 op 20 Maart aan sy beserings en komplikasies beswyk het.

Volgens die familie het onderliggende gesondheidsprobleme, wat deur die ongeluk vererger is, ook ’n rol gespeel.

Familie en vriende het hul meegevoel uitgespreek en hom onthou vir sy omgee en opregtheid.

Three Rivers Mica het op sy amptelike Facebookblad geskryf: “Kabous was ’n geliefde lid van die Three Rivers Mica-familie. Hy sal onthou word nie net vir sy harde werk nie, maar vir die mens wat hy was.”

Janita Enslin, ’n familielid, het gesê: “Kabous laat ’n leemte wat seermaak. Ons mis hom baie.”

Sy het bygevoeg: “Ons mis die WhatsApps en oproepe om te hoor of almal tuis is en of hy kan kom inloer.”

Hy word oorleef deur sy ouers, twee broers en sy lewensmaat.

’n Begrafnisdiens vir Enslin vind op 30 Maart by die Volle Evangelie Kerk in Duncanville plaas.

Die diens begin om 10:30 vir 11:00, waarna hy by die Meyerton-begraafplaas ter ruste gelê sal word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button