Local newsNews

Rubriek: Wanneer grootte nie alles is nie

Vaardighede is blywend en as jy dit met grootte kan kombineer het jy 'n suksesresep.

Kaalvoetrugby is die mooiste en wreedste vorm van ons geliefde spel met die ovaalbal.

Sommige spruite skiet vinnig op met die gevolg dat hulle grootte eerder as hul vaardighede en vernuf hul teenstanders oorskadu.

Enigeen wat rugby gespeel het, sal weet waarvan ek praat. In my rugbyverhaal wat op o9- vlak begin het, was Johan Jacobs daardie speler.

Al wat ons moes doen om wedstryde te wen, was om die bal by hom uit te kry. Hy het oor die heilige rugbytrifecta beskik. Hy was groot, sterk en vinnig.

Om drie tot vier drieë per wedstryd in te ryg was niks vreemds vir hom nie. Hy was boonop ‘n fenomenale hekkies- en naelloopatleet.

As hy en sy pa nie tragies in ‘n motorongeluk gesterf het nie, sou dit interessant gewees het om te sien hoe ver sy sporttalente hom sou neem.

Myns insiens is een van die beste besluite wat onlangs geneem is dat geen rugbyspeler onder die ouderdom van nege aan duikslae blootgestel mag word nie.

Tag-rugby is nou die norm. Dis miskien ‘n goeie ding, want nou moet jy kontak vermy en om spelers hardloop.

Ja, daar rol nog steeds krokodiltrane as daar per ongeluk op tone getrap word, maar die ongesonde obsessie van SuidAfrikaners om mekaar fisiek te intimideer word nou buite berekening gelaat.

Deesdae word videogrepe van spelers wat ander spelers trompop loop honderde derduisende kere gekyk en gedeel.

As jy die smaak uit ‘n speler se mond “bump” is jy ‘n held. Gelukkig is daar nugterdenkende mense soos Dr Rassie Erasmus wat nie behep is met grootte nie.

Kyk ons boerseuns is van nature groot, maar Rassie het gewys wat jy kan vermag as jy grootte en vaardighede meng. ‘n Atletiese fenomeen soos RG Snyman is ‘n sprekende voorbeeld.

Deesdae word daar baie gepraat van hibried-spelers soos André Esterhuizen wat ewe tuis op flank en senter is.

Dis egter niks nuuts nie. In my Hoërskooldae het ons vir Colin Dawson gehad, ‘n bielie wat stut of vleuel kon speel.

Tag-rugby trek miskien die handrem effens op, maar wat na die bulletjierugby-fase gebeur is in die afrigters, skole en ouers se hande.

Wil ons ten alle koste wen?

Kry die bal by die Johan Jacobse van die wêreld uit. Die korttermyn resultate is daar, maar wat van die langtermyn? As elke span 15 spelers eerder as een ontwikkel, sal SuidAfrikaanse rugby nooit ingehaal word nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button