Vaal trio sing op groot Kaapse koorverhoog
Drie plaaslike sangers het saam met topkore op ’n nasionale verhoog geskitter.
MIDVAAL – Drie sangers van Henley on Klip was deel van ’n historiese opvoering tydens die Mzansi Conductors Convention in Kaapstad verlede maand, waar hulle saam met ander topkore opgetree het.
Die drie, Hettie Fowlds (sopraan), Nadine Watkins (alt) en Jacobus Fourie (tenoor), is lede van die Voces Libres Chamber Choir, wat van 13 tot 15 Maart deelgeneem het aan die Mzansi Conductors Convention by die Kaapstad-stadsaal.

Volgens Hettie het die koor tydens die openingsaand saam met die Rhodes University Chamber Choir en UKZN se koor Misa a Buenos Aires (Misatango) gesing.
Dit is ’n werk wat volgens organiseerders vir die eerste keer op Suid-Afrikaanse bodem opgevoer is.

Die stuk kombineer klassieke, gewyde koormusiek met die ritmes van Argentynse tango en het volgens deelnemers ’n besonderse atmosfeer in die saal geskep.
“Dit was ’n ongelooflike ervaring en ’n groot eer om deel te wees van so ’n professionele produksie,” het Hettie gesê.

Sy en haar medesangers sê die ervaring was intens, maar inspirerend, aangesien hulle saam met internasionale musici en bekende dirigente op die verhoog gestaan het.
Die geleentheid is onder meer bygewoon deur Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, wat die openingseremonie toegespreek het.

Ander lede van die Vaal wat ook deel is van Voces Libres sluit in Bianca Vermaak (Drie Riviere) en Benjamin Stander (Sasolburg).
Hettie sê die konvensie was nie net ’n optrede nie, maar ook ’n leerervaring waar sangers blootgestel is aan nuwe idees oor die toekoms van koormusiek.
