Breinvliesontsteking eis talentvolle jong Valke-rugbyspeler
Valke Rugby het die afgelope week hulde aan Fransie gebring.
Valke Rugby het vandeesweek hulde gebring aan Frans “Fransie” van den Bergh, ‘n belowende jong rugbyspeler wat oorlede is nadat hy in die hospitaal vir breinvliesontsteking behandel is.
“Frans. Vir altyd ons Valke-seun. Rus in Vrede,” het Valke Rugby in ‘n plasing op sosiale media geskryf.
Sy ma, Jeanine van den Bergh, het sy dood op Facebook bevestig. Sy het vroeër op sosiale media gesê aanvanklike toetsuitslae dui daarop dat ’n ernstige sinusinfeksie tot breinvliesontsteking gelei het.
Fransie se dood volg enkele dae ná dié van Aidan Westraad (8) van Oudtshoorn, wat vermoedelik aan breinvliesontsteking dood is.

Ken die waarskuwingstekens
Let op skielike koors, erge hoofpyn, ’n stywe nek, braking en gevoeligheid vir lig. ’n Kind kan ook verward of ongewoon slaperig wees, moeilik wakker word of stuiptrekkings kry. ’n Uitslag wat nie verbleik wanneer jy daarop druk nie, is ook ’n gevaarteken.
By babas kan die tekens anders lyk. ’n Baba kan swak drink, slap wees, ongewoon skril huil of ’n sagte plekkie bo-op die kop hê wat uitbult.
Kry onmiddellik mediese hulp as jy breinvliesontsteking vermoed. Simptome kan vinnig vererger. Moenie wag vir ’n uitslag of dat al die tekens verskyn nie.
