OperasieShanela 2 lewer groot sukses in Midvaal
OperasieShanela 2 is in die Midvaal-polisiëringsgebied uitgevoer en het goeie resultate gelewer.
MEYERTON – Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die Sedibeng-distrik het op 16 April voortgegaan met hul gekoördineerde wetstoepassingsoperasies.
‘n Totaal van 56 verdagtes is vir verskeie oortredings gearresteer. Daar is ook beslag gelê op dwelms en onwettige ammunisie.
Altesaam 309 persone en 216 voertuie is deursoek, terwyl 172 voertuie verder getoets is om hul status te verifieer.
Die meerderheid van die arrestasies het 42 ongedokumenteerde persone ingesluit van Mosambiek, Malawi, Zimbabwe en Lesotho.
Inspeksies is ook by verskeie persele gedoen om te verseker dat daar aan regulasies voldoen word.
Wetstoepassing op die paaie het gelei tot 43 boetes ter waarde van R19 100.
Die operasie is uitgevoer onder leiding van die distrikskommissaris, generaal-majoor Nkhensani Mukwevho, en operasioneel gelei deur brigadier Manamela.

Dit was ‘n multidissiplinêre benadering wat ondersteuning van verskeie rolspelers ingesluit het:
SAPD-eenhede
Gauteng Verkeerspolisie
Binnelandse Sake
Privaat sekuriteitsmaatskappye
Gemeenskapspatrolleerders
Generaal-majoor Nkhensani Mukwevho het alle SAPD-lede, belanghebbendes en gemeenskapsvennote geprys vir hul voortgesette toewyding en verbintenis tot die skep van veiliger gemeenskappe.
