Vereeniging-lughawe se lisensie word gekanselleer
Die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (BLO) het die Vereeniging-lughawe se lisensie gekanselleer.
Die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (BLO) het die Vereeniging-lughawe se lisensie gekanselleer.
Lughawelisensies moet volgens regulasies jaarliks hernu word, onderhewig aan streng ouditering en inspeksies.
Versuim om aan hierdie vereistes te voldoen, kan tot boetes of selfs sluiting lei. In die geval van Vereeniging-lughawe was die gebrekkige omheining die hoofrede vir die stap.
Die Vryheidsfront Plus het in reaksie hierop gesê hierdie stap het ʼn direkte en skadelike uitwerking op die lugvaartsektor in die streek en vererger die reeds brose ekonomie van die Sedibeng-distrik (Lesedi, Midvaal en Emfuleni).
Volgens Rian Lubbe, ‘n Vryheidsfront Plus-raadslid in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit is dit ‘n direkte gevolg op die Sedibeng-distriksmunisipaliteit se versuim om die lughawe te onderhou.
Lubbs sê ook dat landingsligte langs die aanloopbaan gesteel is, wat nagvlugte onmoontlik maak.
“Diere beweeg ook vrylik op die terrein rond en riool vloei langs die geboue wat ʼn duidelike teken van verval en verwaarlosing is,ê hy.”
Alhoewel die distriksmunisipaliteit in Julie 2025 ʼn tender van R180 000 vir onderhoudswerk goedgekeur het, kon die VF Plus tydens ʼn onlangse oorsigbesoek geen teken van opknappingswerk vind nie.
Die VF Plus sal in die raad voorstel dat die lughawe tydelik gesluit word totdat alle herstelwerk, soos deur die BLO voorgeskryf, afgehandel is.
“Die huidige nalatigheid hou die risiko in dat die vliegskool, wat die lughawe vir opleiding gebruik, sy kontrak kanselleer en elders hervestig,” sê Lubbe.
“Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen op die munisipaliteit om die rioolstelsel, omheining, beligting en ander kritieke infrastruktuur te herstel en te onderhou,” sê hy.
