Kleine Bear – ‘n Vegtertjie sonder weerga
Bear se storie is een van hoop. In een maand het hy van 'n hulpelose pasgebore hondjie gegroe tot 'n lewenslustige puppy. Danksy sy mens ma.
MIDVAAL – Sy naam is Bear. Hy is ‘n maand oud. Elke dag hou sy mens ma nog asem op en bid dat hy sal oorleef. Bear is op 19 Maart gebore.
Dit was die dag wat diereliefhebber en eienaar van Baxter’s Bark & Breakfast, Deonè Longstaff in spanning na die teaterdeur by die veearts in Drie Riviere gestaar het.
Haar labrador, Finley moes ʼn maagoperasie ondergaan nadat hy ʼn klip ingesluk het. Die volgende oomblik het ʼn vrou ingekom met ʼn klein bondeltjie in haar arms.

ʼn Pasgebore hondjie wat in die pad opgetel is. Sy het om hulp gevra en Deoné het ja gesê sonder om twee keer te dink.
Die hondjie se naelstring was nog klam en ongeveer 10cm lank. Deoné het nie geweet of die hondjie dit gaan maak nie.
Hy het in haar hand gepas. Die eerste paar dae was intens. Sy het hom die heeltyd gemonitor, melk gegee en net teen haar vasgehou. Hy het die naam Bear gekry.
Teen dag 18 was sy ogies oop en het hy sy stertjie vir die eerste keer geswaai. Dis toe dat Deonè besef het, Bear is ʼn vegter. Hy wil lewe.

Twee weke gelede het Bear ʼn terugslag gehad. Hy het opgegooi en gehuil. Deonè is met hom veearts toe, waar hy met longontsteking gediagnoseer is.
Die versorging het skielik ʼn geveg om oorlewing geword. Na ‘n week se ekstra bekommernis, het Bear weereens gewys hy wil lewe.
Deonè het Maandag laat weet dit gaan goed met Bear. Hy het herstel van die longontsteking, eet sy puppy mouse, en kou aan sy eerste speelgoed.

Die kleine Bear wiegel waggel ook al op onseker pootjies rond om sy wêreldjie te verken.
Deoné sê elke oomblik saam met hom is kosbaar. Sy is dankbaar sy was die dag daar om hom te vat. Dankbaar hy het deel van haar lewe geword.
Al het sy slapelose nagte om Bear te versorg, gee sy nie om nie. Sy is daar vir hom. Sy noem hom haar klein wonderwerkie en sê: “Bear is a reminder that sometimes the smallest lives carry the biggest strength.”
